Schools

Nomsa spog met tweede plek

Dit was vir Nomsa Chaba, gr 11 leerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, ’n groot eer toe sy haar provinsie as verbruikersstudie leerder by die NTCE koekbak kompetisie se finale ronde kon verteenwoordig.

Nomsa het weer haar bakvernuf gewys en dat die platteland nie hoef terug te staan vir groter skole nie.

“Sy het `n tweede plek verwerf en haar skool en die provinsie se naam hoog gehou,” het Karin Prinsloo, haar onderwyseres en mentor wat haar vergesel het, gesê.

Gauteng was eerste en die Oos Kaap derde.

Die leerders moes weer ’n koek bak en versier wat die tema “Vier die lente” uitbeeld. Elke deelnemer het dieselfde basies resep van ’n ligte Madeira koek gekry wat op die dag van die kompetisie binne vier ure gebak en met die fynste detail versier moes word. Die beoordelaars was baie in hulle skik met die leerders se kennis en veral Nomsa se “ombre” koek met perfekte angeliere van versiersuiker.

Vir Nomsa was dit ’n moeilike jaar nadat sy haar ma in Mei aan die dood afgestaan het. “My ma sou so trots op my gewees het,” het sy aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button