Schools

Warries reg vir groot feesvieringe

Hoërskool Warmbad het die tafel gedek vir ’n uithalerfees op Saterdag 24 September wanneer die skool sy 75ste bestaansjaar herdenk.

Die vieringe begin vroegdag op die skool se sportveld en die hele gemeenskap word uitgenooi om in al die pret te kom deel.

Karen Vorster, waarnemende skoolhoof, sê die kultuur in die platteland dui op goeie verhoudings en dat dit ’n voorreg is om leerders en hul ouers persoonlik te ken.

“Die gemeenskap is wat die skool ná soveel jaar bymekaar gehou het. Almal weet dat hulle deel vorm van die groter prentjie wanneer hulle by ons skool inskakel. Met waardering teenoor ons hemelse Vader, hoop ons om vir nog 75 jaar verder te bestaan.”

Volgens die argiewe het die skool in 1947 tot stand gekom. Die eerste hoof se naam was W.J. du Plessis. Die skool het destyds met 138 leerders begin en onderrig is slegs van gr. 8 tot gr.10 aangebied.

Die skool se koshuise is in 1950 voltooi. Die eerste matriekgroep het in 1952 vir klasse aangemeld. Verdere uitbreidings, soos aan die koshuise en sportfasiliteite, het in 1956 plaasgevind.

Die Republiekdagmonument met die groot letter ‘R’ voor die skool se administrasiegebou is in 1962 onthul. Die skoolswembad is in dieselfde jaar voltooi.

Die Warries het hul eerste interhoëratletiekbyeenkoms in 1967 gehou.

Die skool het sedertdien sportsterre, uitblinkers en bekendes opgelewer. Al het die skool gebuk gegaan onder enorme veranderinge in die onderwysstelsel sedert die demokratiese oorgang van

1994 en die meer onlangse Covid-19-pandemie, lyk dit asof die Warries in die toekoms steeds ’n belangrike plek in Bela-Bela se onderrigraamwerk sal beklee.

Related Articles

Back to top button