Schools

Nylies wil dorp in reënboogkleure tooi

Die malse kaleidoskoop van kleure wat kenmerkend is van elke Color Run laat deelnemers en toeskouers in verwondering.

Deelnemers trek spierwit hemde aan wat na afloop van die pretloop met reёnboogkleure oortrek is. Die wenners van die pretloop is dié mense wat die meeste pret gehad het.

Laerskool Nylstroom bied vanjaar hul eerste Color Run op Saterdag 3 September aan. Deelnemers van alle ouderdomme is welkom en kan kies tussen ’n 2 km of 4 km-afstand vir die pretloop.

Daar sal ses stasies langs die roete wees waar deelnemers met poeierverf bestook word.

Die begin- en eindpunte is by die skool se rugbyveld. Dit is ook daar waar die kleurvolle spektakel afgesluit sal word met ’n kleurontploffing (“color bash”).

Die geskiedenis van die The Color Run-organisasie vind sy oorsprong in die kleurryke, tradisionele Hindu-fees van Holi wat ook bekend staan as die Lentefees of Fees van kleur.

Die konsep is deur Travis Snyder, ’n geleentheidsorganiseerder van Utah in Amerika, uitgedink om individue se unieke skoonheid (kleur) te vier. Dit streef ook daarna om mense meer bewus te maak van  gesondheid en geluk. Dit word saamgestel uit ’n reeks pretlope van 5 km en word wêreldwyd ingespan vir fondsinsamelingsveldtogte.

Die eerste amptelike Color Run is in Maart 2011 in Phoenix Arizona in Amerika gehou met 6 000 deelnemers. Dit het ’n oornagsensasie geword met 50 stede en ongeveer 600 000 deelnemers wat die daarop volgende jaar reg oor die VSA deelgeneem het. Daarna het dit vinnig uitgebrei na nader lande soos Australië, Asiё, Europa, Suid-Amerika en selfs in Afrika.

Belangstellendes wat graag aan die pretloop wil deelneem kan kaartjies by Laerskool Nylstroom se kantoor koop of omstreeks 06:00 op Saterdag voordat die pretloop om 07:00 wegspring.

Kaartjies beloop R150 per persoon en sluit poeierverf, ’n bril en ’n bottel water in. Kinders onder ses kan gratis deelneem. Bel gerus vir Celeste Bloem by tel. 083 233 4777 vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button