Schools

Woord en klanke bekoor by kultuurfees

Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong het die afgelope twee weke hul 28ste kultuurfees met welslae aangebied.

Die kultuurfees se woordkunsafdeling het vanaf Maandag 1 tot Donderdag 4 Augustus plaasgevind en die toonkuns was op Woensdag 10 Augustus. Clodina Smith was verantwoordelik vir al die reëlings en almal was dit eens dat die fees sonder haakplekke verloop het.

Leerders van die Mookgophong-skole en naburige dorpe het by hierdie fees opgetree. Anina Oosthuizen van Montana in Pretoria was die beoordelaar wat pragtige komplimente en goeie raad gegee het aan die onderskeie deelnemers van die woordfees.

Marilin Smit, ’n gr.10-leerder van die Wes-Kaap, wie se grootouers in die dorp woon, het van die Kaap af gevlieg om hier te kom deelneem en het met ’n handvol spesiale toekennings weggestap. Verskeie toneelstukke is opgevoer en agt spreekkore het die beoordelaar en gehoor met hul kreatiwiteit bekoor.

Die toonkunsafdeling het gesorg vir items op die klavier, kitaar, dromme en fluit. Bessie Buys was die organiseerder. Die beoordelaar was Klaus-Louis Jansen van Johannesburg en hy was aangenaam verras met die plattelandse talent. Daar was 25 individuele deelnemers, vier kore en een klokkespel.

Die dansafdeling is deur Wilmarie de Jager behartig en hulle het verskeie items van hoogstaande gehalte in dié afdeling gehad.

“Wat ’n heerlike dag van pragtige klanke met stem en instrumente,” het Marina Gravett, hoof van die skool, gesê.

Sy het ook elke personeellid, deelnemer en ouer bedank vir hul bydraes tot die sukses van die kultuurfees.

Related Articles

Back to top button