NewsSchools

Hansies sit-sit-so nou al te lekker ná donasie

’n Groep oud-leerders van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het reünie gehou en daarna besluit om geld in te samel om vir die huidige leerders ’n verrassing te reël.

Die groep het gesellig saam by die Weesgerus-vakansieoord buite Modimolle gekuier en daarna hul hande diep in die sakke gesteek en aan die skool en leerders nuwe bankies geskenk wat tydens pouses en by skoolgeleenthede gebruik kan word.

Volgens Vic van Zyl, een van die oud-Hansies, wou hulle as matriekgroepe van 1977 tot 1982 graag ’n skenking aan die skool maak.

“Ons het verneem dat die skool ’n behoefte aan sitplek vir die kinders tydens pouses het en daarom het ons die plastiekbankies, wat uit herwinde materiaal gemaak is, te koop en dit persoonlik te kom oorhandig,” het hy aan Die Pos gesê.

Die tien bankies is maar net ’n begin, want hulle wil probeer om in die toekoms nóg bankies aan die skool te skenk.

Die leerderraad, onderwysers en die skoolhoof, Rinus de Jager, was baie in hul skik met die mooi gebaar. Die oud-leerders het met groot nostalgie gepraat oor hul tyd op die skoolbanke en hoe hulle saam gewerk het om die pragtige tartan-atletiekbaan en ’n groot gedeelte van die pawiljoen te bou.

Hierdie groep kom jaarliks bymekaar om saam te kuier. Van Zyl het gesê hulle beplan reeds aanstaande jaar se byeenkoms. Die voorlopige datum is 31 Maart 2023. Meer inligting oor dié byeenkoms sal nog verskaf word.

Related Articles

Back to top button