NewsSchools

Plaasskole het steeds ’n plek in skoolsisteem

Talle ouer inwoners van die Waterberg dink met nostalgie terug aan die plaasskole (waarvan die oorgrote meerderheid nie meer bestaan nie of heeltemal vervalle geraak het) waar hulle hul skoolloopbane begin het.

Die departement van basiese onderwys het reeds in 2017 met die proses begin om die wysiging van basiese onderwyswetsontwerp (BELA) deur die parlement goedgekeur te kry.

Mikro-skole soos Laerskool Van Wykskraal is een van die skole wat sedert 1924 ’n reputasie opgebou het as ’n plaasskool wat floreer en met groter skole kan meeding vir gehalte onderwys.

Lede van dié skool se beheerliggaam het met Die Pos gesels oor die skool se prestasies en uitdagings op voorwaarde dat hulle anoniem bly.

Die skool is ongeveer 40 km vanaf Thabazimbi in die Makoppa-omgewing en het tans 70 ingeskrewe leerders van gr. R tot gr. 7.

Leerders kom van sover as Cumberland (ongeveer 80 km vanaf die skool) wat in die Botswana-grensgebied woon. ’n Busdiens is spesifiek ingestel vir leerders en onderwysers wat ver woon.

Laerskool Van Wykskraal, ’n plaasskool sowat 40 km vanaf Thabazimbi, het sedert die 1920’s ’n reputasie opgebou as ’n skool wat puik geleenthede aan hul leerders bied. Op die foto is ’n groep leerders wat die senior sewesrugbyspan sterkte toewens voor ’n wedstryd vroeër vanjaar.

Die skool beskik oor sy eie swembad en atletiekbaan en het genoeg afrigters beskikbaar om netbal, rugby, landloop, krieket, hokkie en tennis af te rig en mededingend deel te neem.

Eisteddfod-kompetisies en skoolkonserte is deel van die skool se kultuuraktiwiteite.

Wat die skool egter onderskei, is hul hoë standaard van onderrig en toewyding tot hul akademie. Intensiewe aandag word aan al die leerders in die klaskamer geskenk.

Drie gr.12-leerders, wat oud-leerders van dié skool was, het in 2021 gesamentlik 15 onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal.

Laerskool Van Wykskraal is ’n departementele skool en word as sulks bestuur. Die voorgeskrewe departementele kurrikulum word gevolg. Die ouers en beheerliggaamslede dra die skool en hulle sorg dat die leerders van die skool die beste ontvang en gelyke geleenthede as groot skole bied.

“Die geheim van ons sukses is die kleiner klasse waar individuele aandag aan elke leerder gegee kan word, ongeag die leerder se vermoëns. Dit is nie net in die klaskamers waar kinders floreer nie, want hier neem almal aan elke geleentheid deel,” het een bestuurslid gesê.

“Daar is tans bitter min florerende skole op die platteland. Enkelmedium Afrikaanse skole raak al hoe skaarser en daarom moet daar hard gewerk word om hierdie skole te beskerm. Die belangrikheid en voortbestaan van Laerskool Van Wykskraal kan nie genoeg beklemtoon word nie.”

Nog ’n ouer en lid van die beheerliggaam het gesê ouers sien ’n duidelike verskil in die leerders wat aandaggedrewe onderrig ontvang teenoor leerders wat in groot klasse wegraak in die bondel.

“’n Ouer kan met dankbaarheid sê dat hul kind die individuele aandag kry wat hulle verdien. Om deesdae skoolfonds te betaal is reeds vir die meeste ouers ’n uitdaging en daarom soek ouers waarde vir hul geld.”

“Van Wykskraal het al provinsiale en Springbokrugspelers opgelewer danksy geesdriftige onderwysers en ouers wat die basiese vaardighede in hul leerders vasgelê het.”

’n Lid van die beheerliggaam het voorts gesê indien ’n skool sy deure moet sluit oor politiek, berokken dit ongelooflike skade aan die gemeenskap.

“Dit is met hartseer dat ek terugkyk na soortgelyke plaasskole wat vandag nie meer bestaan nie. Dit is deur vasberadenheid en groot harte wat ons nog klou en veg vir die voortbestaan van kosbare plaasskole soos Van Wykskraal.”

  • Die BELA-wetsontwerp se doel is om gr.R-klasse verpligtend te maak en om nuwe stelsels in plek te kry wat die toelating van leerders tot skole kan raak.

Dit maak ook melding van nuwe finansiële en openbare raamwerke vir beheerliggame en provinsiale departemente.

Verder sal die departement beheer hê oor die skool se taalbeleid en om nuwe magte te gee aan die minister, departementshoofde rondom finale besluitneming by skole.

Die publiek en rolspelers het tot op Maandag 15 Augustus tyd om vertoë te rig aan die parlement oor die beoogde wetsontwerp.

Related Articles

Back to top button