NewsSchools

Thaba se slimkop-Mariska droom groot

Toe die matriekuitslae op Vrydag 21 Januarie aangekondig is, het ouers, onderwysers en leerders van Hoërskool Frikkie Meyer breëbors gespog met hul puik uitslae.

Onder dié leerders was Mariska Coetzee wat met haar uitmuntende uitslae die dorp (en die distrik) aan die gons gehad het.

Om agt onderskeidings in die senior sertifikaat-eksamen te behaal, is nie ’n geringe prestasie nie. En as ’n mens dié 18-jarige slimkop van Thabazimbi vra hoe sy dit reggekry het, sê sy nederig dat dit met genade, harde werk en die ondersteuning van ’n mens se geliefdes moontlik is.

By hierdie uitsonderlike prestasie het sy ook die hoogste punt in Limpopo, naamlik 97%, in die skool se geskiedenis behaal en is sy deur die departement van onderwys as die Waterberg-distriksambassadeur aangewys.

Mariska het op ’n plaas buite Thabazimbi grootgeword en vertel dat dit haar familie se ondersteuning is wat haar pad na sukses help reguit maak het.

“Ons is ’n gesin van ses. My pa wou met sy hele hart ’n seun gehad het, maar toe word hy geseën met vier dogters,” spot sy.

“Albei my ouers is slim mense, maar hulle het nie baie van skool gehou nie en nie een van hulle het die begeerte gehad om ná skool te studeer nie,” het sy geskerts.

Haar pa boer op hul familieplaas en haar ma hanteer die administratiewe deel van die boerdery. Dit is juis hulle voorbeeld van harde werk en deursettingsvermoë wat haar gevorm het tot die veelsydige jong mens wat sy vandag is.

“Die belangrikste les wat ek by my familie geleer het, is om groot te droom en hard te werk om jou drome waar te maak.”

As hoofmeisie van Hoërskool Frikkie Meyer in 2021 het Mariska diep spore by dié skool getrap en nou staan sy gereed om ’n nuwe hoofstuk af te skop as mediese student aan die Universiteit van Stellenbosch.

“Ek glo dat vroeë voorbereiding, harde werk en ’n sterk ondersteuningsbasis die sleutel tot sukses is.” vertel sy.

“Dissipline is baie belangrik, veral in matriek. ’n Mens moet vroeg in die jaar ’n besluit neem om gedissiplineerd te wees; al beteken dit dat jy soms lekker sosiale afsprake moet opoffer.”

Sukses is vir haar ’n kwessie van balans en wanneer sy nie voorberei vir ’n eksamen nie, bring sy graag vrye tyd saam met haar familie en vriende deur.

“’n Mens moet darem ’n breekkansie skep,” maan sy. “In my vrye tyd lees ek boeke. Ek is ’n groot leser. Dit is vir my ontsnapping om in ’n goeie boek verdiep te raak.”

Sy glo almal het talente ontvang en dat ’n mens meer suksesvol sal wees as jy jou talente met ander deel.

“My beste raad vir sukses in akademie is om al jou aandag aan akademie te wy as jy daarmee besig is, en ook kliphard te speel wanneer jy speel. Goeie punte maak vir jou deure oop, maar ’n mens moet balans hou en sorg dat jy ook die beste jare van jou skoolloopbaan geniet.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button