NewsSchools

Hansie-leerders vereer vir verdienstelike prestasies

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong hou elke jaar vroeg in die eerste kwartaal hul spesiale akademiese prysuitdeling om aan leerders wat die vorige jaar puik presteer het, erkenning te gee.

Johanette Pretorius, nuut aangestelde departementshoof vir tale by die skool, het tydens die glansryke geleentheid op Dinsdagaand 8 Februarie aan die stuur van sake gestaan.

Ds. Louis Pretorius, NG-predikant in die dorp, het die opening waargeneem en Rinus de Jager, skoolhoof, het in sy verwelkoming die leerders gelukgewens met hul prestasies en hulle sterkte toegewens vir 2022.

Die leerders wat die afgelope jaar uitnemende diens aan die skool gelewer het, is ook vereer.

Die twee leerders wat die beste presteer het in die senior sertifikaateksamen en dus aangewys is as die Dux-leerders van Hoërskool Hans Strijdom, Xander Bester en Charisse O’Callaghan, was reeds op die Universiteit van Pretoria se kampus en kon nie die prysuitdeling bywoon nie. Op die foto ontvang Pierre Bester (ouer van Xander) en Aggie O’Callaghan (ouer van Charisse) die trofee van Rinus de Jager, skoolhoof.

“Ek is baie trots op elke leerder wat hul beste gelewer het in 2021. Dit was net weer ’n bewys dat waar ’n wil is, is ’n weg, want dit was ’n besonder moeilike jaar met baie uitdagings,” het Lizel Swart, adjunkhoof vir akademie, tydens die prysuitdeling gesê.

Sy is ook baie optimisties oor die matrikulante van 2022 en glo hulle gaan goeie uitslae behaal.

Swart het dit beklemtoon dat akademie vir die Hansies baie belangrik is en dat goeie prestasies in elke onderwyser en leerder se beplanning is.

Zander Law ontvang die trofee vir die seun wat die hoogste gemiddeld in gr. 8 en gr. 9 behaal het.
Isebelle de Beer ontvang die trofee vir die hoogste gemiddeld in gr. 9 vir 2021 van Rinus de Jager, skoolhoof. Sy het ook die trofee verower vir die meisie met die hoogste gemiddeld in gr. 8 en gr. 9.
Magda du Preez het ’n trofee ontvang vir die senior meisie wat die hoogste gemiddeld in gr. 10 en -11 behaal het.
Janco van der Walt ontvang die trofee vir die hoogste gemiddeld in gr. 11 van Rinus de Jager, skoolhoof.

Related Articles

Back to top button