Hoërskool Nylstroom is trots op die vyf toekennings wat hulle tydens die Waterberg-distrikstoekenningsgeleentheid van die departement van onderwys ontvang het.
Die toekennings is op Vrydag 28 Januarie in Bela-Bela oorhandig.
Janique Erasmus, die Nylies se hoofmeisie en Dux-leerling van 2021, was die vyfde beste akademiese presteerder in die Waterberg-distrik. Sy het ook die hoogste gemiddeld in haar gunstelingvak, rekeningkunde, behaal.
Omphile Sabushimike is aangewys as die beste presteerder in die Waterberg-distrik in die vak Afrikaans Eerste Addisionele Taal.
Cerise Burger is aangewys as die beste presteer in ingenieursgrafika en -ontwerp (IGO) en Shibe Leso was die beste leerder in besigheidstudies.
Taelo Mokhabela is aangewys as die beste Sepedi-onderwyser in die distrik.
“Ek wil elkeen van hierdie leerders en hul onderwysers ’n stywe handdruk gee. Ons het verlede jaar herhaaldelik vir mekaar gesê: Hou jou met die regte dinge besig en die regte dinge sal gebeur. Hierdie uitblinkers het Vrydag die oes ná hul harde werk ingesamel. Julle maak ons trots!” het Anton du Plessis, skoolhoof, gesê.