NewsSchools

Opleiding vir redenaars en beoordelaars

Die ATKV-redenaarskompetisie is weer in volle swang nadat dit die vorige twee jaar weens die Covid-19-pandemie nie aangebied kon word nie.

Johanette Pretorius, Hoërskool Hans Strijdom se organiseerder, het in die lig hiervan besluit om ’n opleidingskursus vir toespraakskrywers en beoordelaars aan te bied.

Erika Janse van Rensburg, ’n afgetrede onderwyser en kundige op dié gebied, het die kursus op Saterdag 29 Januarie in die NG-kerksaal in Mookgophong aangebied.

Die skryfopleiding is die oggend vir sewe leerders en 15 volwassenes gehou. Hulle is deur Janse van Rensburg touwys gemaak in die skryf van goeie beredeneerbare toesprake en die vereistes waaraan die toesprake moet voldoen.

Die kursusgangers het die tema van “trek” ontleed en daaroor geskryf.

“Die onderwerp het lig gewerp oor hoeveel verklarings en menings ’n enkele begrip kan inhou en die groep het lekker kreatief met die woord gewerk,” het Pretorius gesê.

Dit het die groep opgeval dat ’n laerskoolleerder wat die kursus bygewoon het, gesê het: “Kinders trek swaar.”

Die beoordelaarsaanbieding het om 12:00 begin en 31 onderwysers en ander rolspelers het dit bygewoon.

Twee leerders van Laerskool Eugène N. Marais en twee Hansies het toesprake gelewer. Die beoordelaars kon toe op ’n praktiese wyse toepas wat in die kursus geleer is.

“Die kursusleier was baie beïndruk met die kinders se toesprake en die aanbieding daarvan. Ek is vol vertroue dat Limpopo-suid se uitdunne wat op 5 en 6 Mei by Hoërskool Hans Strijdom plaasvind, van hoë standaard sal wees. Die deelnemers kan ook gerus voel oor die beoordeling van die kompetisie,” het Pretorius gesê.

Janse van Rensburg is sedert 1978 op nasionale vlak by die redenaarskompetisies betrokke. Sy was ook vir 26 jaar betrokke as afrigter en organiseerder van die Gauteng-Suid en Vaaldriehoek-streek.

Sy is reeds sedert 1994 ’n beoordelaar tydens die finale ronde van die ATKV-redenaarskompetisie.

Related Articles

Back to top button