NewsSchools

Frikkies is die topskool in die Waterberg-distrik

Die 2021-matriekklas van Hoërskool Frikkie Meyer het vanjaar oudergewoonte geskitter toe die nasionale matriekuitslae bekend gemaak is.

Frikkie Meyer spog weer met ’n 100% slaagsyfer en het uitstekende individuele uitslae behaal.

Die skool is tydens die amptelike Waterberg-prysuitdeling op Vrydag 28 Januarie as die topskool in die Waterberg-distrik aangewys.

Frikkie Meyer is voorts aangewys as die skool met die hoogste persentasie leerders wat met universiteitsvrystelling (83,6%) geslaag het.

Mariska Coetzee, een van die Frikkies se toppresteerders, het nie net agt onderskeidings behaal nie, maar sy het ook die hoogste punt in geskiedenis (97%) verwerf en is aangewys as die Waterberg-distriksambassadeur.

Tiaan Peyper spog met die hoogste punt vir siviele tegnologie (91%) in die distrik en Kgaugelo Dube het die beste presteer in English Home Language (83%). Mari Theunissen is met ’n gemiddeld van 94% aangewys as die toppresteerder in die Waterberg-distrik en sy het ook die hoogste punt behaal in Afrikaans Huistaal (97%), Engels Eerste Addisionele Taal (94%), geografie (91%), lewenswetenskap (98%) en fisiese wetenskap (95%).

Hoërskool Frikkie Meyer se personeel en leerders was oorstelp van vreugde nadat agt van hul onderwysers vanjaar aangewys is as die onderwyser in die Waterberg met die hoogste graadgemiddeld in hul onderskeie vakgebiede:

Hulle is Marle Jordaan (gasvryheidstudies), Martie Boshoff (Afrikaans Huistaal), Annarie Jordaan (English Home Language), Marlien Pieterse (lewenswetenskap), Michelle du Plessis (ekonomie), Colin Campbell (geskiedenis), Hendrik Buys (wiskundige geletterdheid) en Berna Kriel (wiskundige geletterdheid).

Met só ’n formidabele span onderwysers is dit geen verrassing dat die Frikkies vanjaar ook kan spog met vyf leerders onder die toptienleerders in die Waterberg-distrik nie.

Mari Theunissen was, met sewe onderskeidings, die algehele toppresteerder in die distrik.

Mariska Coetzee (90% gemiddeld en agt onderskeidings) en Quinelle Blaauw (sewe onderskeidings en ’n gemiddeld van 88%) was onderskeidelik in die derde en vierde plek.

Robyn Le Roux se 85,4% gemiddeld (sewe onderskeidings) het vir haar ’n sewende plek op die toptien besorg en Gizelle Roach het met ses onderskeidings (83% gemiddeld) negende op die toptien geëindig.

Related Articles

Back to top button