NewsSchools

Nylie-matrieks skitter met uitslae

Hoërskool Nylstroom is breëbors nadat die matriekklas van 2021 se uitslae op Vrydag 21 Januarie bekend gemaak is.

Anton du Plessis, skoolhoof, het die leerders, ouers en onderwysers hartlik geluk gewens met hul uitstekende uitslae.

Du Plessis het gesê leerders kan met reg trots wees op hul prestasie ten spyte van die afgelope twee jaar se moeilike omstandighede.

“Hulle het die skool en gemeenskap baie trots gemaak,” het hy gesê.

Hoewel Limpopo teruggesak het van sewende tot laaste plek van al nege die provinsies met ’n gemiddelde slaagsyfer van 66,7%, het sekere skole steeds puik presteer.

Hoërskool Nylstroom se 125 matriekleerders het ’n slaagsyfer van 96,8% behaal, met altesame 66 vakonderskeidings. Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong is ’n kortkop agter hulle met ’n slaagsyfer van 96,2% vir hul 79 leerders.

Van die 12 openbare skole wat onder die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit val, was drie skole se matriekslaagsyfer laer as 70% met Phagameng High School in Modimolle in die laaste plek met 61,8% (207 leerders), Makhutjisha Secondary School in Mookgophong met 63,3% (196 leerders) en Solomon Mahlangu Secondary School in Modimolle met 68,3% (221 leerders).

Sommige skole in die landelike omgewing het tot so min as ses gr.12-leerders gehad.

Daar was altesame 1 100 matriekleerders van openbare skole in die munisipale gebied wat die nasionale senior sertifikaat eindeksamen afgelê het.

Die Nylies se toppresteerder is Janique Erasmus (hoofmeisie van 2021) met onderskeidings in al sewe haar vakke naamlik Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, lewensoriëntering, rekeningkunde, rekenaartoepassingstegnologie, wiskunde en fisiese wetenskap. Haar uitblinkergemiddeld is 87,6%. Janique gaan vanjaar B-Com Rekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Sy het aan Die Pos vertel dat sy gemik het vir vyf A’s en met groot verbasing verneem het dat sy sewe onderskeidings behaal het.

“Ek het nooit gedink ek sou ook onderskeidings in wiskunde en wetenskap kry nie.”

Rekeningkunde is natuurlik haar gunsteling- vak. Haar wens vir vanjaar se matrieks is om alles voluit te doen tot eer van God.

Omphile Sabushimike het die tweede beste gevaar met vier A’s en ’n gemiddeld van 82,7%.

Sy het onderskeidings vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal, fisiese wetenskap, lewenswetenskap en lewensoriëntering behaal. Sy beoog om eersdaags ’n graad in chemiese ingenieurswese te studeer.

Sy wil graag ander Nylies aanmoedig om daagliks te groei om ’n beter weergawe van hulself te wees.

Karla Brits spog met ses A’s en ’n gemiddeld van 82,4%. Sy het onderskeidings behaal in Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, besigheidstudies, lewensoriëntering, rekeningkunde en rekenaartoepassingstegnologie.

Sy beplan om haarself as geoktrooïeerde rekenmeester aan die Universiteit van Pretoria te bekwaam.

Shibe Leso het drie onderskeidings verwerf vir Sepedi Eerste Addisionele Taal, besigheidstudies en lewensoriëntering en het ’n gemiddeld van 80,4%. Sy beplan om besigheidstudies aan die Universiteit van Pretoria te studeer.

Loré Mostert was baie ingenome met haar vier onderskeidings in Engels Eerste Addisionele Taal, besigheidstudies, lewensoriëntering en toerisme. Sy beplan om onderwys aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom te studeer.

Willie van Rooyen, die enigste haan onder die henne, spog ook met vier onderskeidings in Engels Eerste Addisionele Taal, fisiese wetenskap, rekenaartoepassingstegnologie en inligtingstegnologie. Willie het vertel dat hy nog altyd mal is oor rekenaars met inligtingstegnologie as sy gunsteling vak.

Hy gaan vanjaar BSc Rekenaarwetenskap aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Nog ’n slimkop is Xané Kirsten wat vier onderskeidings behaal het in Engels Eerste Addisionele Taal, gasvryheidstudies, lewensoriëntering en rekenaartoepassingstegnologie.

Sy het ’n hart vir jong kinders en wil haarself bekwaam as onderwyser vir die grondslagfase (gr. 1 tot 3). Nadia Bisschoff het ook vier onderskeidings verwerf vir Engels Eerste Addisionel Taal, lewensoriëntering, rekenaartoepassingstegnologie en rekeningkunde, haar gunstelingvak.

Sy beoog om ’n B.Com-graad aan die Universiteit van Pretoria te studeer. Mirandy Boshoff en Lisa van Vuuren het albei drie onderskeidings verwerf vir Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal en lewensoriëntering.

Mikayla Botes het ook drie A’s behaal vir Engels Eerste Addisionele Taal, rekenaartoepassingstegnologie en rekeningkunde.

Hoërskool Nylstroom se ander matrikulante het hard gewerk en die matriekuitslae skets ’n mooi prentjie.

Die 2021-groep spog met 66 A-simbole, asook 19 leerders wat ’n gemiddeld van meer as 70% behaal het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button