NewsSchools

Gemengde gevoelens oor matriekuitslae

Die nasionale slaagsyfer vir 2021 se matriekleerders het gemengde reaksie uitgelok.

Daar heers groot kommer oor die negatiewe uitwerking wat die Covid-19-pandemie op matrieks se voorbereiding en uitslae gehad het.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het op Donderdag 20 Januarie tydens die nasionale bekendstelling van die matriekuitslae gesê altesame 897 687 matrieks het die eksamen afgelê, maar slegs 537 687 het die eksamen geslaag (297 152 meisies en 240 535 seuns).

Dit bring die nasionale slaagsyfer vir 2021 op 76,4%. Sy het voorts gesê altesame 21 499 leerders is “oorgeplaas” nadat gestandardiseerde aanpassings gemaak is.

Die Vrystaat se slaagsyfer was die hoogste met 85,7% gevolg deur Gauteng (82,8%) en die Wes-Kaap (81,2%).

Limpopo het vanjaar die laagste slaagsyfer van die nege provinsies gehad. Altesame 1 330 skole in Limpopo het leerders vir die matriekeksamen ingeskryf.

Die tien distrikte in Limpopo sluit in Capricorn Suid (73,8% slaagsyfer), Mogalakwena (72%), Waterberg (71,3%), Vhembe Oos (70,8%), Capricorn Noord (67,8%), Mopani-Wes (67,1%), Vhembe-Wes (66,9%), Mopani-Oos (62,1%), Sekhukhune-Suid (59,4%) en Sekhukhune-Oos (58,6%).

Uit die Waterberg 2-streek se 55 skole wat tussen 90% en 100% slaagsyfer behaal het, is Boithuto Intermediate School in Tolwe (agt matriekleerders met 100% slaagsyfer), Hoërskool Ellisras (137 uit 138 wat geslaag het en dus 99,2% slaagsyfer behaal het), Hoërskool Frikkie Meyer (122 leerders met 100% slaagsyfer), Hoërskool Hans Strijdom (76 uit 79 leerders met 96,2% slaagsyfer), Hoërskool Nylstroom (121 uit 125 leerders slaag wat 96,8% slaagsyfer is), Hoërskool Warmbad (75 uit 83 leerders slaag wat die slaagsyfer op 90,4% bring), Letupu Secondary in Tom Burke (48 uit 52 leerders slaag met 92,3% slaagsyfer), Mabalane Seleka Technical School buite Groblersdal (45 leerders met 100% slaagsyfer), Thekganang High in Amandelbult (53 uit 57 leerders geslaag en behaal 92,9% slaagsyfer) en Vingerkraal Secondary School buite Bela-Bela (13 leerders het geskryf met 100% slaagsyfer).

  • Die DA het Motshekga in ’n verklaring gekritiseer omdat die landwye slaagsyfer volgens hulle te hoog aangepas is.

    Die party sê dit is duidelik dat die departement nie die totale leerders wat in gr.10 skool verlaat het, in ag geneem het nie en daarom word die werklike nasionale slaagsyfer volgens die DA op 51,4% geraam.

    Hul syfers toon verder dat daar in 2019 altesame 1 045 424 leerders landwyd in gr.10 ingeskryf was, waarvan 148 261 uit die skolestelsel “verdwyn” het en nooit matriek voltooi het nie.

    Kritiek is uit verskeie oorde teenoor die departement van basiese onderwys uitgespreek oor die beleid om skole nie tydens die 2021 pandemie- tydperk ten volle te heropen nie.

    Daar is ’n dringende versoek aan die departement gerig om die beleid te hersien en weg te doen met die rotasieprogram wat by skole ingestel is.

Related Articles

Back to top button