NewsSchools

Waarnemende Warrie-hoof reg vir nuwe jaar

Hoërskool Warmbad het in Desember 2021 afskeid geneem van hul skoolhoof, Paul Liddle, maar vanjaar is Karen Vorster, ’n ou bekende, aan die stuur van sake as waarnemende hoof.

Liddle en sy gesin het reeds na die Oos-Rand verhuis waar hy voortaan by die Curro-skole betrokke sal wees.

Met Die Pos se besoek aan die skool die afgelope week het Vorster gesê totdat die nuwe hoofpos gevul word, beoog sy om verhoudinge met ander Waterbergskole uit te brei.

“Ek verkies om akkommoderend teenoor almal op te tree en is bereid om na die ouers en leerders van ons skool te luister. Ons leerders presteer reeds baie goed in akademie. Met die Bosveld Interhoër op hande glo ek gesonde wedywering tussen die onderskeie skole sal weer opvlam, maar dat almal op respekvolle wyse sal meeding.”

Vorster het aanvanklik haar onderwysloopbaan by Laerskool Koedoeskop begin. Daarna het sy ’n departementshoofpos by Spitskop Special School aanvaar.

Sy was ook by Queens Private School in Pretoria verantwoordelik vir wiskunde- en wetenskaponderrig.

Sy het in 2015 by Hoërskool Warmbad aangesluit. Sy beklee tans die adjunkhoofpos by dié skool en sal nou ook waarneem as skoolhoof.

“Ons voedingsarea is Bela-Bela en omgewing en daarom is die voortbestaan en sukses van die skool vir die hele gemeenskap baie belangrik. Die Covid-19-pandemie het skole sedert Maart 2020 geknou, maar ons het goeie moed dat vanjaar se inperkings minder sal wees en dat die skool weer aan al die aktiwiteite sal deelneem. Ons roosters en werksverdeling vir die jaar is reeds gedoen en ons is goed op dreef vir die res van die jaar.”

Sy het voorts gesê leerders is uitgehonger vir sport en sosiale aktiwiteite. Die afgelope naweek se interhuisatletiekbyeenkoms het getuig van die leerders en ouers se geesdrif.

Noudat die riglyne effens verslap het, kon meer mense die byeenkoms bywoon.

“Die gees by die skool was nog altyd onblusbaar. Ons sien uit na die interhoër en weet dat elke Warrie hul beste sal lewer.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button