NewsSchools

Hoërskool Frikkie Meyer se leerders begin op ’n drafstap

Die nuwe skooljaar het skaars begin of Hoërskool Frikkie Meyer se leerders en personeel het skouer aan die wiel gesit om vanjaar een vir die geskiedenisboeke te maak.

Die nuwe skooljaar het op Woensdag 12 Januarie amptelik afgeskop. In egte Frikkie-styl het dié skool se leerders in groot getalle aangemeld vir die jaarlikse atletiekuitdunne.

Die skool se huissportbyeenkoms word op Vrydag 21 Januarie by die skool gehou. Die nuwe gr. 8-groep is met hul aankoms by die skool deur die skoolhoof en personeel verwelkom.

Die “ertse” (soos die gr. 8-leerders bekend staan) sal die komende weke moet bontstaan met al die aktiwiteite wat vir hul oriëntering beplan word.

Die doel van die oriëntering is om nuwe leerders touwys te maak in die Frikkies se tradisies en om die skool, personeel en ander leerders beter te leer ken. Hulle sal ook aan verskeie aktiwiteite kan deelneem en sodoende inskakel by die Frikkies se wenkultuur.

Colin Campbell, skoolhoof, het tydens die verwelkoming die hoop uitgespreek dat elke nuwe leerder by Hoërskool Frikkie Meyer die geleenthede wat die skool hulle bied met albei hande sal aangryp en deel word van ’n opwindende jaar wat vir die Frikkies voorlê.

Related Articles

Back to top button