NewsSchools

Nuwe jaar, nuwe uitdagings

Die afgelope twee jaar was vir baie leerders, onderwysers en ouers uitdagend en juis daarom hoop almal dat die 2022-skooljaar so “normaal” moontlik sal verloop.

Almal sien uit na kuier saam met vriende, die uitdaging van ’n nuwe graad en nuwe vakke en natuurlik die vooruitsig om weer skolesport te beoefen.

Volgens die aanlynleerplatform Afrikaans.com word skoolgereedheid in vier basiese vaardighede opgedeel: Intellektuele ontwikkeling, perseptuele ontwikkeling, fisieke ontwikkeling en sosiale- en emosionele ontwikkeling.

’n Mens is geneig om te dink dat hierdie vaardighede slegs op kleuters en hul ouers van toepassing is, maar selfs volwassenes moet nog daagliks van dié vaardighede ontwikkel.
Hier is ’n paar wenke om lesers te help om die beste van die nuwe kwartaal te maak.

Intellektuele ontwikkeling beteken dat leerders nuwe begrippe moet verstaan, daaroor kan redeneer en dit later in die kwartaal tydens toetse en assesserings moet kan weergee. Die spreekwoord lui: “Rome is nie in een dag gebou nie,” en dit geld natuurlik die baasraak van skoolwerk. Onderwysers en ouers moet hand bysit met klaswerk en huiswerk sodat leerders elke dag, bietjie vir bietjie, leerwerk kan deurlees, opsom en hersien sodat dit nie ophoop voor die eksamen nie.

Perseptuele ontwikkeling stel leerders in staat om hul sintuie in te span om inligting oor ’n omgewing of situasie te verkry. Dit help onder meer met konflikhantering en die vermoë om onderwysers se daaglikse lesse te interpreteer. ’n Mens kan dit regkry deur alledaagse stokperdjies te beoefen: As kinders graag ná ’n lang skooldag voor die televisie ontspan, laat hulle gerus dié uur gebruik om op te let na fyner detail van hul gunstelingmusiekvideo of fliek. Die kameraskote, byklanke en gesigsuitdrukkings van die akteurs kan dikwels die storie inkleur. Sulke interpretasies help om leerders ook in die klas te help om op hul sintuie staat te maak om leerwerk makliker te maak.

Fisieke ontwikkeling is seker een van dié belangrikste aspekte van skoolgaan: ’n fikse lyf huisves ’n gesonde brein. Laat kinders ’n blaaskans van hul studies neem deur om die blok te gaan stap of sommer ’n paar opstote in die kamer te doen. Op dié manier raak ’n mens ontslae van die oortollige spanning van die skooldag wat verby is.

Dit is nooit te laat om skoon en vars te begin nie. Die Pos wens ons onderwysers, ouers en leerders ’n geseënde en kreatiewe skooljaar toe.

Related Articles

Back to top button