NewsSchools

Hansies spog met nuwe adjunkhoofde

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het die nuwe skooljaar met groot geesdrif afgeskop nadat twee van hul eie personeellede bevorder is tot adjunkhoofde.

Die adjunkhoofpos is vakant sedert die aftrede van Riaan Bester in 2014. Lizel Swart is aangestel as adjunkhoof: akademie en meisiesdissipline en Lebu Van Heerden as adjunkhoof sport, terrein en seunsdissipline.

Lebu van Heerden is deur die beheerliggaam van Hoërskool Hans Strijdom aangestel as die ander adjunkhoof by die skool en is verantwoordelik vir sport, terrein en seunsdissipline.

Van Heerden is ’n oud-Hansie wat al byna tien jaar by die skool onderrig gee. Hy onderrig tans ingenieursgrafika en -ontwerp (IGO) vir die gr. 10-12-leerders. “My doelwit is om Hoërskool Hans Strijdom verder uit te bou tot die beste skool in Limpopo. Ek wil graag klem lê op my eie gebied van sport en dissipline. Verder wil ons graag die skoolterrein en geriewe ook verbeter. My wortels groei al 21 jaar in Mookgophong en ek sal alles in my vermoë doen om die skool op te bou. Ek is baie trots en dankbaar vir die geleentheid om in dié pos te dien,” het hy aan Die Pos gesê.

Van Heerden was in 2003 hoofseun van Laerskool Eugène N. Marais en in 2008 ook van Hoërskool Hans Strijdom. Hy het ná skool ’n senior Tegnika Meganiese-graad aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom behaal. Hy is ook betrokke in die gemeenskap en dien as ouderling by Nederduitse Hervormde Kerk in die dorp.

Swart het grootgeword op ’n plaas tussen Volksrus en Perdekop in Mpumalanga en het aan Hoërskool Ermelo gematrikuleer. Sy het daarna ’n graad in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria verwerf en ’n diploma in rekeningkunde, rekenaartik en lewensorientering as spesialisvelde. Sy het haar onderwysloopbaan in 2004 by Hoërskool Monument in Mogale City (Krugersdorp) begin en het later by Hoërskool Waterkloof en daarna by Afrikaans Hoërmeisieskool in Pretoria onderrig. Die Bosveld het haar egter geroep en sy was van 2017 tot Julie 2018 by Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane betrokke.

Sy het aan die begin van die derde kwartaal in 2018 by Hoërskool Hans Strijdom begin skoolhou. Haar spesialiteitsvak is besigheidstudies wat sy tans onderrig. “Vir my is dit belangrik om ’n gebalanseerde mens te wees en my doel is om die Hansies toe te rus sodat hulle hulself kan handhaaf in die samelewing. Ek is deel van ’n gemotiveerde personeelspan wat hierdie skool na nog hoër hoogtes sal lei,” het sy vol geesdrif gesê.

“Ons is baie opgewonde oor die twee onderwysers se bevordering en bid dat God aan hulle die wysheid, krag en deursettingsvermoë sal gee in hierdie belangrike werk. Ons weet hulle sal die Hansies aanvuur om nuwe hoogtes te bereik,” het Rinus de Jager, hoof, gesê.

Related Articles

Back to top button