NewsSchools

Geliefde onderwyser tree uit

Die leerders, onderwysers en ouers van Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong het met ’n swaar hart afskeid geneem van een van hul geliefde onderwysers, Elsa van der Merwe.

Van der Merwe het ná 41 jaar diens in die onderwys besluit om die tuig neer te lê.

Sy is in Bronkhorstspruit gebore en het in Cullinan grootgeword. Sy het aan Hoërskool Erasmus in Bronkhorstspruit gematrikulueer en daarna onderwys gestudeer.

Sy het in 1980 by Laerskool Vaalrivier begin skoolhou en eers by nog ’n paar ander skole ’n draai gemaak voordat sy op 1 Januarie 1987 by Laerskool Eugène N. Marais ingeval het.

Sy is op 11 Desember 1982 met Japie van der Merwe getroud en hulle het net ’n dogter, Elmé.

Sy het deur die jare onder meer Afrikaans, sosiale wetenskappe en ligaamlike opvoeding onderrig. Sy was op haar dag self ’n kranige naelloper en was baie jare by die skool vir atletiekafrigting verantwoordelik. Sy het ook landloop georganiseer en afgerig en in die wintermaande het ’n mens haar altyd langs ’n netbalbaan gesien. “

Ek gaan die heel meeste na die kinders en onderwysers waarmee ek so lank saam gewerk het verlang,” het sy gesê.

Sy beoog om ’n rustige aftrede te hê, maar een van haar kollegas meen grappenderwys:

“Soos ons haar ken, sal sy dit nie sommer regkry nie. Sy gaan gou weer aan die hardloop wees.” Van der Merwe het gesê haar raad aan jong onderwysers is dat hulle vasberade, geesdriftig en toegewyd moet wees. “My wens vir die toekoms is dat die skool van krag tot krag sal gaan en my laaste boodskap aan die Boompies is: Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button