NewsSchools

Hoërskool Warmbad se skoolhoof verhuis na Gauteng

Hoërskool Warmbad neem aan die einde van die skooljaar met hartseer afskeid van Paul Liddle wat sedert 2018 die skoolhoof is.

Liddle het onlangs aangekondig dat hy ’n aanstelling as hoof by Curro Helderwyk-skool in Brakpan gekry het. Hy begin in Januarie as hoof by dié skool werk.

“Curro-skole het die geleentheid oor my pad gebring om nuwe horisonne by Helderwyk-skool te ontdek. Ek het nie vier jaar gelede — toe ek by Hoërskool Warmbad ingestap het — besef dat ek soveel ondersteuning en liefde van die gemeenskap van Bela-Bela sou ontvang nie. Ons het nuwe vriende hier gemaak wat ons altyd sal koester,” het hy aan Die Pos gesê.

“Die seisoen vir my en my gesin in Bela-Bela het tot ’n einde gekom, maar dit bly my passie om kinders hoop te gee en voor te berei vir die lewe ná skool. My boodskap aan die Warries is in Jesaja 54: 2-4 vervat, naamlik dat die skool van krag tot krag sal groei. Ek is bly dat daar die afgelope vier jaar, danksy baie rolspelers, nuwe strukture by die skool in plek gekry is om die Warries te bevorder,” het Liddle gesê.

“Ondanks die uitdagings wat die Covid-19-pandemie teweeg gebring het, het die skool se finansiële posisie gestabiliseer en kan dit nou net verbeter.”

Liddle het gesê hy wil graag die skool se ouers aanmoedig om voortaan meer by die verskeie aktiwiteite van die skool en sy leerders betrokke te raak.

Die beheerliggaam het aangedui dat Karen Vorster intussen as waarnemende skoolhoof aangestel word totdat die Limpopo-onderwysdepartement ’n permanente aanstelling maak.

Related Articles

Back to top button