NewsSchools

Laerskool Koedoeskop se gr. 7’s neem afskeid

Leerders en personeel van Laerskool Koedoeskop het verlede week amptelik afskeid geneem van vanjaar se gr. 7-leerders.

Die gr. 7-leerders en hul ouers het op Donderdag 4 November by die NG-Kerk Koedoeskop byeengekom vir die gebruiklike gr. 7-kerkdiens.

Ds. Marco la Grange het tydens die diens die gr. 7’s geloof vir die afgelope jaar se harde werk en uithouvermoë.

“Ons weet almal 2020 en 2021 was moeilike jare, maar dit het julle voorberei op die lewe en julle aanpasbaar gemaak. Dit is nie elke kind wat kan sê dat hulle in sulke uitdagende tye staande kon bly nie,” het hy gesê.

“Julle laerskoolloopbane het tot ’n einde gekom en hoewel dit hartseer is, kan julle ook uitsien na nuwe uitdagings en die begin van ’n blink toekoms.”

Die gr. 7-leerders het ná die diens elkeen ’n geleentheid gekry om een-vir-een hul naam in die skool se register te skryf en vir oulaas ’n kersie aan te steek.

“Soos ons in Mattheus 5 lees, moet jy altyd ’n lig vir ander wees en dit is ook wat dié seremonie vanaand simboliseer,” het La Grange afgesluit.

Zarius Janse van Rensburg, skoolhoof van Laerskool Koedoeskop, het op sy beurt die kinders geprys vir dit wat hulle vanjaar bereik het en hy het hulle aangemoedig om ook in die hoërskool aan te hou om ’n goeie voorbeeld te stel.

“Julle laerskoolloopbaan was ’n fase van die lewe wat nou verby is. Van julle is die oudstes in die gesin wat die weg baan vir julle jonger boeties en sussies en vir ander is julle die laastes wat deel was van ons skool.”

Hy het hulle aangemoedig om nuwe uitdagings aan te pak.

“Stel haalbare doelwitte vir julself,” het hy gesê. “Droom altyd groot, maar moenie dat julle korttermyngeluk julle toekomstige, langtermyndoelwitte kniehalter nie. Gaan trap diep spore.”

Related Articles

Back to top button