NewsSchools

Kinderhuis vra hulp met ekstra klasse

Die Covid-19-pandemie het die akademiese skooljaar ingrypend beïnvloed met tussen 50% en 75% onderrigtyd wat volgens die departement van basiese onderrig verlede jaar verlore gegaan het.

Hierdie negatiewe invloed is steeds vanjaar ’n wesenlike probleem en vir sommige leerders is dit bykans onmoontlik om die agterstand in te haal.

Volgens Marlene de Villiers, skakelbeampte van die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle, is die uitdagings vir leerders van die kinderhuis soveel groter.

Juis daarom het hulle besluit om ’n Carpe Diem-projek te loods om geld in te samel vir ekstra klasse om hierdie kwesbare leerders te help.

Volgens De Villiers is akademiese prestasie moeiliker, maar dringender, vir hierdie kinders wat uit ’n agtergrond van emosionele trauma, mishandeling of mislukking kom.

“Ons kinders sal nooit die geleentheid vir tersiêre studies kry indien hulle nie akademies goed presteer nie,” het sy gesê. “Die Covid-19-pandemie het hierdie kinders se toekoms in gedrang gebring. “Ons glo ekstra klasse sal die nodige verskil maak om die agterstand uit te wis,” het sy gesê.

Dit is veral die gr. 7-12-leerders wat die meeste hulp benodig in vakke soos wiskunde. Kostes vir ekstra klasse wissel van R100 tot R250 per uur, afhangend van die vakgebied. Hierdie koste word nie deur die staatsubsidies gedek nie.

Met die Carpe Diem-projek word ’n beroep op die gemeenskap gedoen om SMS-skenkings van R15 per SMS te maak om hierdie onderrignood te help verlig.

Om R15 te skenk, kan die teksboodskap “Carpe Diem” aan tel nr. 39236 gestuur word. Die SMS-koste beloop R15 per SMS.

Selfoondiensverskaffers se voorwaardes en terme geld.

Related Articles

Back to top button