NewsSchools

Laerskool Thabazimbi laat die Kransberg antwoord gee

Laerskool Thabazimbi sien met groot afwagting uit na die vrystelling van “Lig op die Horison”, die musiekvideo wat die skool se revuegroep onlangs saam met die bekende sanger Joshua na die Reën opgeneem het.

Leerders en personeel was sedert Maart vanjaar stil-stil aan die oefen en verlede week het die tyd aangebreek om die langverwagte musiekvideo op te neem.

Thabazimbi se gemeenskap is sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie baie diep getref deur die dood van talle bekende en beminde inwoners en juis daarom wil die skool, saam met Joshua na die Reën se lied “Lig op die Horison,” ’n boodskap van nuwe hoop bring.

Dié leerders van Laerskool Thabzimbi bo-op die Kransberg is (voor) Daniëlle Fourie, Finn Santos, Herman Prinsloo en Mardus Ras. Agter is Niel Gildenhuys, Gert-Hendrik du Plessis, Dewan Schlebusch, Rubert Joubert, Lialette Minnaar, Milandi Visser, Abigali Venter, Lize Venter, Mia Santos, Annebel Grobler, Nicole Serfontein, Taryn Stander en Leané Thuynsma.

Die dorp gons behoorlik oor die uitreiking van die musiekvideo. Met die puik marimba-spel van die skool se leerders en die suiwer klanke van die dorp se beste jong sangers is die verwagtinge dat die Kransberg antwoord sal gee tydens die musiekproduksie.

Die musiekvideo word in die laaste week van Oktober vrygestel op Raindust, ’n platform wat geskep is vir Suid-Afrikaanse-kunstenaars.

Carmi Engelbrecht, Abi van Vuuren, Carla Horn, Andri van Emmenis, Esmarie Pienaar, Deané Prinsloo, Lara Denton, Ané Coetzee en Sarita Hermann was pragtige in hul blou kostuums en sal kykers vermaak met hul pragtige sang en danspassies.

Kaartjies sal binnekort op dié platform te koop wees om die video-vrystelling aanlyn by te woon. Laerskool Thabazimbi se weergawe van “Lig op die Horison” saam met Joshua na die Reën sal daarna ook beskikbaar wees op Apple Music en iTunes en die musiekvideo sal ook op ander sosiale media platforms beskikbaar gestel word.

Inwoners moet seker maak dat hulle nie hierdie uithalerproduksie misloop. Loop saam met Laerskool Thabazimbi die pad na die mooi; na die lig op die horison.

Related Articles

Back to top button