NewsSchools

Koedoeskop-leerders laat voete jeuk

Die leerders van Laerskool Koedoeskop het die afgelope week hul skoolskoene weggebêre en hul dansskoene aangetrek om die gehoor te bekoor met hul revue-optrede.

Volgens Zarius Janse van Rensburg, skoolhoof van dié laerskool, was die maande se voorbereiding en kreatiewe uitlating ’n welkome verandering vir die leerders wat sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie in Maart 2020 baie opofferings moes maak.

Daar was ook baie teleurstellings weens aktiwiteite wat in die slag gebly het.

Celi Maseko maak litte los op die verhoog tydens Laerskool Koedoeskop se revue.

“Wie sou ooit kon dink dat ons in ons leeftyd deel sou wees van ’n wêreldwye pandemie; vasgekeer in ons wonings met geen byeenkomste en geen sport nie?” het hy gesê.

“Toe ons skool uitvind dat ons danksy ons kleiner aantal leerders nog steeds vanjaar ’n revue op die planke kon bring, was almal ontsettend opgewonde. Dit was vir ons as personeel ook baie lekker om te sien watter positiewe impak dié geleentheid op ons leerders se gemoedere gehad het.”

Janse van Rensburg het verder verduidelik dat die revue nie net ’n geleentheid was vir die onderwysers en leerders om hul talente ten toon te stel nie, maar dat dit ook ’n ervaring was wat werklik hoop gebring het in dié vreemde tye waaraan kinders gewoond moes raak.

Zandré Visser, Monique Visser en Barend Prigge vertolk die rolle van die uil, haan en muis in die kleuters se “Dapper muis-item.”
Dian Cornelius doen die “briljantjie” saam met sy klasmaat, Piet Pompies.
Die gr. 4-leerders van Laerskool Koedoeskop maak gereed vir hul item “Shongololo shuffle”. Hulle het die gehoor se voete behoorlik laat jeuk.

Die leerders se energie het vinnig ’n meelewende uitwerking op die gehoor gehad en dit was duidelik dat vanjaar se revue een is wat nog vir lank onthou sal word.

As enigiemand getwyfel het waarom die skool se tema vanjaar: “Koedoes snork nie” is, kan daar na dese geen twyfel meer wees nie:

“Koedoes snork nie, hulle ruk en rol!”

Related Articles

Back to top button