NewsSchools

Boereplaas, Heimwee en die siel van die mier

Die bekende Afrikaanse digter Eugène N. Marais het ’n groot deel van sy lewe in die Waterberg en die Mookgophong-omgewing gewoon.

Dit is vanjaar die viering van sy 150ste verjaarsdag en Hoërskool Hans Strijdom in die dorp het op Vrydag 17 September ’n geselligheid by die skool se verversingslokaal aangebied ter ere van hierdie besondere digter en skrywer.

Mauritz Hansen, oud-skoolhoof van die skool en geskiedkundige, het die program begin met die geskiedenis van Marais.

Hanri de Jager, onderwyser by die Hansies, het saam met Hansen die aanbieding gereël. Sy het ook voorlesings van Marais se werke gedoen.

De Jager se ma, Esté Pienaar, wat ook ’n bekende aktrise is, was die programleier en het vertolkings van sy werke gedoen.

Pienaar was tot April vanjaar die direkteur van kultuur by Hoërskool Monument in Mogale City (Krugersdorp), maar woon nou in Mookgophong. Sy het haar dramalisensiaat (onderwyskwalifikasie) cum laude verwerf en haar dramaskool wat daaruit voortgespruit het, “Scherzo”, bestaan steeds. Haar dramastudente is bekend vir die pryse wat hulle op kompetisies verower.

Henry van Dyk het as gaskunstenaar opgetree. Hy is ’n prokureur met ’n meestersgraad in arbeidsreg. Sy musiekloopbaan het in 2005 afgeskop toe hy as algehele wenner in die kategorie “Beste Volwasse Sang” van die Pretoria-eisteddfod aangewys is. Hy het in 2011 sy operadebuut in Verdi se opera La Traviata met Johan Spies as regisseur gemaak.

Van Dyk het onder meer “Heimwee” en “Boereplaas” gesing.

Die 50 gaste was dit eens dat dit ’n pragtige huldeblyk aan Marais was.

Pienaar en Van Dyk tree die afgelope vyf jaar landwyd saam op.

Related Articles

Back to top button