NewsSchools

Forbies maak skoonskip

Die Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mookgophong is op Dinsdag 17 Augustus aangewys as die wenskool in die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) se geskiedenis-olimpiade.

Die kompetisie is vanjaar aanlyn aangebied. Elbie van der Walt (onderwyser) het die leerders afgerig vir die kompetisie.

Leerders van 24 laerskole landwyd, 10 tuisskole en verskeie leerders verbonde aan Voortrekkerkommando’s het deelgeneem. Daar was ook ’n inskrywing uit Nieu-Seeland.

Die tema was Suid-Afrikaanse geskiedenis en die leerders moes voorberei deur die Patriot Troefkaart-speletjie te speel.

Hulle het ook die idiomeboek, Klopdisselboom: Idiome oor waens en trekdiere in hul voorbereiding gebruik.

In aanloop tot die olimpiade is die skool se stoepe in ’n tydlyn van die geskiedenis omskep met vergrote weergawes van die troefkaarte in die speletjie, asook verskeie ander plakkate.

Die gr. 4-7-klasse het mekaar die stryd aangesê in ’n skoolkompetisie waartydens hulle elke dag ’n paar vrae oor die geskiedenis en die idiome in die boekie moes beantwoord.

Die gr. 5-klas het as wenners van hierdie interne kompetisie uit die stryd getree. Die toets het bestaan uit 80 multikeusevrae wat binne 80 minute voltooi moes word.

Daar was 59 Euphorbia-deelnemers wat die toets afgelê en ’n gemiddeld van 75% behaal het.

“Uit geskiedenis leer ons die foute van die verlede en verbeter daarop. Ons leer ook van die suksesse van die verlede en bou daarop voort. Baie dankie juffrou Elbie vir al die moeite en tyd om ons kinders meer van ons land se geskiedenis te leer. Jou passie vir geskiedenis en ons Afrikaner-kultuur het die leerwerk interessant gemaak,” het Anél Pretorius, skoolhoof, gesê.

Related Articles

Back to top button