NewsSchools

Nylies trots op hul skoolkoerant

Die redaksiespan van Hoërskool Nylstroom in Modimolle is trots op die eerste NylieNuus-uitgawe wat nou weer ná baie jare verskyn het.

Die span jong verslaggewers het so tussen ’n vervroegde grendeltyd en skoolvakansie deur geskryf en geskaaf aan hul berigte wat handel oor sake waaroor tieners deesdae praat.

Gunstelingliedjies is gedeel, hoe om warm te bly as al die klaskamer se vensters oop is om Covid-19 te voorkom, hoogtepunte uit die groentjiekonsert en handige toeps (Apps) op hul selfone.

Daar is vertel hoe hulle deur Covid-19 geraak is en hoe van die sportsterre se drome deurmekaargekrap is deur die pandemie.

Daar is ’n onderhoud met 2020 se Dux-leerder en hoofseun, James Chauke, oor sy ervaring van die universiteitslewe en hulle het ook gesels met ’n leerder wat haarself Mandaryns leer en reeds 500 karakters van hierdie moeilike taal baasgeraak het.

Die groep, wat weekliks byeenkom, leer nie net hoe om ’n berig aan te pak nie, maar ook hoe om ’n onderhoud te voer, foto’s te neem en die basiese beginsels van bladuitleg.

Die skoolkoerant sal kwartaalliks verskyn en is beskikbaar op die skool se Facebook-blad.

Related Articles

Back to top button