NewsSchools

Hoërskool Frikkie Meyer se onnies wys hul staal by inentingsentrum

Die personeel van Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi het op Vrydag 25 Junie by die Thabazimbi-hospitaal aangemeld om hul Covid-19-inenting te kry en só hul deel gedoen om die Covid-19-pandemie te help stuit.

Die Limpopo-onderwysdepartement het in Junie vanjaar aangekondig dat 38 400 dosisse van die Johnson & Johnson Covid-19-entstof aan die provinsie se onderwysers beskikbaar gestel is.

Die Pos het met dr. Jaco Marais, mediese dokter van die omgewing, daaroor gesels. Hy was trots op die Frikkie-personeel se groot opkoms en wil graag ander Thabazimbi-inwoners aanmoedig om die skool se voorbeeld te volg.

Hoërskool Frikkie Meyer se personeel is goed verteenwoordig by die inenting van onderwyspersoneel op Vrydag 25 Junie. Op die foto is Abraham Fritz in die goedgeorganiseerde inentingstasie by Thabazimbi-hospitaal.

“Ons leef in baie onseker tye en word gebombardeer deur ’n magdom inligting. Soms kan ’n mens net nie meer onderskei tussen wat geloofwaardig en wat fopnuus is nie,” het Marais gesê.

“As mediese dokter beveel ek aan dat elkeen wat die geleentheid het, die entstof vir die voorkoming van Covid-19 moet neem.”

Ninette de Aguiar, wat verantwoordelik is vir openbare betrekkinge by Hoërskool Frikkie Meyer, het ook haar inenting op Vrydag 25 Junie ontvang.

Marais het verduidelik dat talle studies gedoen is oor die veiligheid van hierdie entstowwe — nie net deur die vervaardigers nie, maar ook onafhanklike studies deur byvoorbeeld Solidariteit, wat bewys het dat dit veilig is om te gebruik.

Michelle Johnston van Hoërskool Frikkie Meyer was baie dapper tydens die inenting van onderwyspersoneel by die Thabazimbi-hospitaal.

“Indien mense bekommerd is oor die neem van die entstof, stel ek voor hulle maak ’n afspraak met hul huisdokter en kry ’n mediese mening wat spesifiek by die pasiënt se profiel pas. Moet asseblief nie inligting wat op sosiale media versprei word, blindelings glo nie. Die bronne van hierdie inligting kan nie altyd geverifieër word nie en is daarom nie altyd geloofwaardig nie,” het hy gemaan.

Hy het mense aangeraai om steeds maskers te dra, gereeld hul hande te was of te saniteer en steeds veilige sosiale afstande te handhaaf.

Related Articles

Back to top button