NewsSchools

Skole sluit vroeër weens pandemie

Die skoolvakansie het vir baie skole amptelik op Woensdag 30 Junie aangebreek in ’n poging van die regering om die stygende Covid-19-infeksiekoers te stuit.

Ingevolge die jongste vlak 4-inperkings wat op Sondag 27 Junie afgekondig is, moet alle skole op die laatste teen Vrydag 2 Julie sluit.

Die winterskoolvakansie sou aanvanklik eers op Maandag 12 Julie begin het. Die datum wanneer die skole weer mag open, is nog nie deur die departement van onderwys bekendgemaak nie.

Dié aankondiging het talle skole se akademiese beplanning vir die soveelste keer die afgelope jaar omver gewerp.

Van die skole was in die middel van toetsreekse of eksamens toe di aankondiging gedoen is. Liezl Grobler, waarnemende onderhoof van Laerskool Warmbad, het in reaksie aan Die Pos gesê die eksamen het gelukkig einde se kant toe begin staan, behalwe vir twee vakke wat nog geskryf moes word.

“Ons sal hierdie vakke nou eers in die derde kwartaal kan voltooi. Die grondslagfase se asseserings is gelukkig reeds afgehandel.”

Chrisna van der Walt, skoolhoof van Academia Private School, het aan Die Pos gesê hulle skool het sedert Februarie by die normale akademiese jaarprogram gehou.

“Ons het tegnies reeds verlede Vrydag gesluit en beoog om teen Mandag 19 Julie te open, afhangende wat die president ná twee weke aankondig.”

Die leerders het volgens haar goed bygehou en personeel het reeds begin om leerders vir die Cambridge-eksamen in Oktober voor te berei.

Paul Liddle, hoof van Hoërskool Warmbad, het in reaksie gesê die inperking sal beslis vertragings in die derde kwartaal teweegbring.

“Die personeel is effe onkant betrap, maar ons moet aan die voorgeskrewe bepalings voldoen,” het hy gesê.

“Ons gr.8-11-leerders sou dié week met hul asseseringsreeks begin het, maar ons moes dit nou uitstel na die derde kwartaal. Die akademiese jaar sal beslis beperk wees.”

Related Articles

Back to top button