NewsSchools

Hoërskool Frikkie Meyer bring hoop

Armoede neem in Thabazimbi, soos in die res van die land, toe.

Vir die leerders van Hoërskool Frikkie Meyer is dit ’n aansporing om ’n oplossing vir die probleem te vind. Hulle het onlangs, in samewerking met die plaaslike tak van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), Projek Winterhoop van stapel gestuur.

Daleen Delport, maatskaplike werker van die SAVF, Thalita van Wyk, maatskaplike werker by Hoërskool Frikkie Meyer, en Anali Cornear, voorsitter van die SAVF in Thabazimbi, by die boom waar leerders boodskappe van hoop en liefde kon laat. Die skool het in graadverband Projek Winterhoop geloods en ruim bygedra om die lot van minderbevoorregtes te verlig.

Die projek se oogmerk is om jaarliks in die wintertyd vir minderbevoorregtes ’n bietjie uitkoms en verligting te bied. Leerders het ruim bygedra en komberse, nie-bederfbare voedselprodukte en klere ingesamel.

Die leerders het in graadverband hul bydraes op die skool se netbalbane versamel waarna die vroue van die SAVF die verspreiding gedoen het.

Die gr. 9-leerders van Hoërskool Frikkie Meyer het voedselprodukte en komberse geskenk en ook die viervoetiges in die gemeenskap onthou. Hulle het diereprodukte en hondekos ingesamel wat aan Thabazimbi Animal Rescue-sentrum geskenk is.

Christel Barnard, verteenwoordiger van die SAVF, het haar dank uitgespreek teenoor elke leerder, ouer en lid van die gemeenskap wat gehelp het om vanjaar se projek suksesvol af te sluit.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir al die hulp wat ons jaarliks van Hoërskool Frikkie Meyer ontvang. Ons besef dat mense, veral in die laaste jaar, swaargekry het, maar nogtans het ons groot hoeveelhede nie-bederfbare kos ontvang. Dit wys dat mense hier nog omgee vir hul medemens,” het sy gesê.

Projek Winterhoop was ook vir die viervoetiges tot voordeel.

Daar is baie produkte en sakke hondekos aan die Thabazimbi Animal Rescue-sentrum geskenk.

Related Articles

Back to top button