NewsSchools

Skole tref voorsorg teen Covid-19

Die drastiese styging in Covid-19-gevalle bekommer inwoners van Thabazimbi.

Die Pos se verslaggewer het op Vrydag 28 Mei oor die drastiese styging in Covid-19-gevalle verslag gedoen. Die bevestigde getal infeksies is toe op 62 geraam.

Vandeesweek lyk sake heelwat anders. Daar is tans 231 bevestigde gevalle van Covid-19 in die dorp. In reaksie hierop het die bestuur van Thabazimbi se skole besluit om voorkomend op te tree en hul leerders, personeel en ouers te beskerm teen die verspreiding van die virus.

Laerskool Thabazimbi het op Sondag 13 Junie ’n skrywe aan ouers en leerders van die skool gerig waarin die skoolbestuur hul kommer uitspreek oor die potensiële gevaar wat die huidige situasie vir die veiligheid van leerders inhou.

Die skool het aan ouers die opsie gegee om hul kinders vir die week wat begin op Maandag 14 Junie tot Vrydag 18 Junie tuis te hou.

“Ek en my personeel is baie bekommerd oor u en u kinders, asook ons eie veiligheid,” het Koos Venter, skoolhoof, in die skrywe verduidelik.

“Ons stel dus voor dat u die kinders hierdie week tuis hou as dit enigsens moontlik is.”

Die skool het dit duidelik gemaak dat hulle glad nie gesluit sal wees oor die tydperk nie en dat ouers wat geen ander keuse het nie, welkom is om hul kinders skool toe te stuur mits hul geen simptome van die virus toon nie.

Die personeel van Laerskool Thabazimbi sal by die skool wees. Luidens die jongste statistieke wat deur die departement van gesondheid en die skool se Covid-19-beampte uitgereik is, is daar tans 21 leerders en agt personeellede wat positief getoets het vir die virus.

Verder is daar agt onderwysers wat tuis isoleer weens moontlike aanraking met die virus en ongeveer 58 leerders wat ook om dié rede in isolasie is.

Daar is in hierdie tydperk ook drie ouers oorlede aan Covid-19-komplikasies. Die skool het hul innige simpatie uitgespreek teenoor familielede en vriende van die afgestorwenes.

“Ons moniteer tans die situasie deeglik en sal teen Vrydag (18 Junie) weer ’n skrywe uitstuur met reëlings vir die komende week,” het Venter afgesluit.

By Hoërskool Frikkie Meyer (HFM) het die huidige Covid-19-krisis die skool ook gedwing om voorsorgmaatreëls te tref om saam met die res van Thabazimbi se inwoners, te werk daaraan om die verspreiding van die virus te beveg.

Die skool het op sosiale media aangekondig dat hul voortgaan met hul dagprogram, maar hulle het besluit om toekomstige geleenthede soos die beplande wynveiling (wat vir Vrydag 2 Julie skeduleer was) uit te stel tot die situasie in die dorp verbeter.

Vir enige verdere inligting skakel tel. 076 157 4300 of tel. 072 997 5205. Die skool het verder beklemtoon dat dit vir hul belangrik is om met die gemeenskap saam te werk om die verspreiding van Covid-19 te beperk.

Hou gerus albei skole se sosiale mediabladsye en webtuistes dop vir meer inligting in die verband.

Related Articles

Back to top button