NewsSchools

Bosveldspruitjies groet legendariese Juf. Christa ná 43 jaar by skool

Kleuterskool Bosveldspruitjies in Bela-Bela het op Maandag 31 Mei ’n somber atmosfeer beleef toe Christa Snyman, skoolhoof, nie soos elke dag die vorige 43 jaar op haar pos was nie.

Sy het op Vrydag 28 Mei amptelik die tuig neergelê. Die personeel en beheerliggaam het op Vrydag 21 Mei van haar afskeid geneem tydens ’n geselligheid by ATKV Klein-Kariba-vakansieoord. ’n Groep matrieks van Hoërskool Warmbad wat in hul kleuterdae in haar gr. R-klas was, het op dié dag vir haar ’n erewag by die skool gevorm.

Snyman was alombekend as ’n uiters bekwame hoof met uitstekende werksetiek. Sy word allerweë as ’n mentor vir haar kollegas beskou.

Volgens dié wat haar ken, was dit egter haar rol as vertrooster wat haar diep in die harte van die gemeenskap laat kruip het. Talle van haar oudleerders onthou met nostalgie hoe sy saam met hulle trane gestort het en altyd ontvanklik vir hul probleme was.

Snyman het op haar laaste dag by die skool geskerts dat sy nou vroegoggend so ’n bietjie dieper onder die donskombers sal inkruip wanneer leerders moet aantree vir die begin van die skooldag.

Sy het aan Die Pos vertel dat die skool in 1977 deur die destydse administrateur van Transvaal geopen is.

Sy het op daardie stadium haar praktiese opleiding as ’n finale jaar onderwysstudent by dié skool voltooi. Sy het skaars ’n jaar later as jong onderwyser by die skool ingeval en is twee jaar later, in 1980, as nuwe skoolhoof aangestel. Snyman sê sy het deur die jare goue herinneringe versamel.

Daar was goeie tye saam met personeellede, leerders en ouers en soms was daar uitdagende tye. Hulle het saam ook hartseer tye by die skool beleef, maar die kosbare tye sal gekoester word.

“Dit was vir my swaar toe die regering destyds besluit het dat preprimêre skole nie meer bestaansreg binne die departement van basiese onderwys het nie. Talle soortegelyke skole is gesluit of is geprivatiseer,” het sy gesê.

“Daar was verder die verreikende invloed van die Covid-19-pandemie op die gemeenskap, die skool en veral op die ontwikkeling van jong kinders.”

Dit was ook hartseer om oor die jare personeellede en oudpersoneellede soos Loraine Eloff, Brenda Terreblanche, Orpah Ipland, Rykie Loubser en Marina Greyling aan die dood af te staan, het Snyman gesê.

“Hulle was en bly deel van die Bosveldspruitjies-familie.”

Snyman het gesê sy dra Psalm 16 saam het haar: “’n Pragtige deel is vir my afgemeet; wat ek ontvang het, is vir my mooi. Om ná bykans 43 jaar te kan sê: kom wind, kom weer, kom oseaan, U is die rots waarop my huisie staan, is suiwer genade.”

Sy het gesê dit was vir haar wonderlik om daagliks met vrolike leerders te werk. Hulle was spontaan eerlik en het onvoorwaardelik hul waardering en liefde betuig.

Hulle is aanpasbaar en aanvaar so maklik veranderinge waaraan hulle blootgestel word.

“Ek het my roeping om kinders te leer, uitgeleef en het boonop die voorreg gehad om met toegewyde personeellede, wat mekaar onderskraag, te werk. Die kundige en ywerige insette van beheerliggaamlede, vriendelike en betrokke ouers, die ongelooflike gemeenskap met hul oop harte en hande was deel van ons skool se suksesverhaal.”

Sy het ook haar dank uitgespreek teenoor haar man en kinders vir die vryheid en ongelooflike ondersteuning waarmee hulle haar in staat gestel het om haar op haar roeping toe te spits.

Snyman het gesê sy bid seën en voorspoed oor Natasja Roets, waarnemende skoolhoof by Bosveldspruitjies, asook Theron Brand, nuwe skoolhoof van Laerskool Warmbad, waaronder Kleuterskool Bosveldspruitjies sorteer.

Related Articles

Back to top button