NewsSchools

Strijdom teater weer oop

Die grendeltydperk het die Strijdom Teater by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong se deure dig gehou, maar gelukkig kon bekende sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit en die wêreldklastjellis, Susan Mouton, gaste weer vir die eerste keer op Donderdag 6 Mei in die teater vermaak.

Die 50 uitsoekgaste was dit eens dat dié Afrikaanse kunstenaars uitstekend was.

“Ons is uitgehonger om weer sulke konserte by te woon,” het een van die gaste gesê.

Die eggo van jou oë — met kitaar en tjello — is ’n program van die twee virtuose kunstenaars wat Suid-Afrikaners op musiekverhoë bekoor.

Die stemming word “geverf” met die wonderlike klankkleure wat die kombinasie van tjello, kitaar en stem bied. Hulle het die gehoor gaande gehad met ’n paar van Du Toit se jongste liedjies, maar het ook ou gunstelinge uit sy jeugjare soos die Afrikaanse kunslied, wêreldpop- en folkmusiek van die sestiger- en sewentigerjare en die beste uit die Europese kleinkunstradisie gespeel.

Daar was musiek van Bob Dylan tot by Koos Doep en van die Beatles tot by Jacques Brel. Daar is ook instrumentale werke opgevoer waarin Mouton se vaardigheid met die tjello geskitter het.

Die twee kunstenaars werk reeds die afgelope 10 jaar nou saam en hul ensemblespel verdien oral groot lof en waardering.

“Ons het dit baie geniet om die ongelooflike mooi konsert by te woon,” het René Hartmann, een van die gaste, gesê.

Die gehoor het soms spontaan saam met Du Toit gesing en die kunstenaars ná die vertoning staande toegejuig.

“Ons beoog om binnekort weer ’n kunstenaar op die verhoog te hê,” het Marita Louw, kul- tuurhoof van die Hansies, aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button