NewsSchools

Hansies hou matriekafskeid-ekspo

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het op Saterdag 8 Mei ’n unieke matriekafskeid-ekspo aangebied.

Corlia Boshoff, onderwyser by die skool, het in 2020 reeds beplan om die ekspo te hou, maar weens die Covid-19-inperkings kon dit nie plaasvind nie.

“Dit was aanvanklik ’n groot teleurstelling, maar ons het besluit om vanjaar deur te druk en die geleentheid nóg groter te maak. Die meisies het die voorreg gehad om bekende ontwerpers en grimeerkunstenaars te ontmoet. Dit was vir my aandoenlik en ’n besondere voorreg om te sien hoe die mammas en hul dogters die ekspo geniet,” het sy gesê.

Die toegangskaartjie het ’n ligte ete ingesluit. Daar was ’n koffie-en-koek-stalletjie wat gewild was. Boshoff en haar span het reeds begin planne beraam om dit in 2022 verder uit te brei.

Bekende ontwerpers, waaronder Gerrit Pienaar, het pragtige rokke verskaf en 30 van die Hansies se meisies het as modelle opgetree en die skeppings aan die gehoor vertoon.

Daar was selfs ’n paar Hansie- manne wat bereid was om die lynstaan te verruil vir die loopplank en gewys het wat die nuutste modetendens vir jongmanne is.

Armand du Plessis, voormalige Mnr. Suid-Afrika, het as seremoniemeester opgetree en na afloop van die ekspo gesê hy het op dié dag weer bewus geword van die hartlikheid van mense op die platteland.

Die ongeveer 150 besoekers het na afloop van die modeparade gesellig by die verskillende uitstallings gekuier en ook by die jenewer-stalletjie ’n draai gemaak.

“Ons sal aanstaande jaar verbeter op die konsep en die bemarking wyer doen. Hierdie ekspo is nie net vir matriekmeisies van Hoërskool Hans Strijdom nie — ons wil graag almal in die gemeenskap en buurdorpe daarby betrek. Baie dankie aan oud en jonk wat ons vanjaar ondersteun het,” het Boshoff gesê.

Related Articles

Back to top button