NewsSchools

Virus steek weer kop uit by verskeie Limpopo-skole

Covid-19 het die afgelope week tande gewys in Limpopo se skole.

Drie bekende skole in Die Pos se lesersgebied — Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, Hoërskool Warmbad en Laerskool Thabazimbi — se deure was die afgelope week gesluit weens ’n skerp toename in leerders en onderwysers wat positief vir die virus getoets het.

Die Hansies het ná deeglike oorleg met verteenwoordigers van die department van gesondheid, die department van onderwys en die skoolbestuur, besluit om die skool vir ’n week te sluit nadat van die leerders positief getoets is. Die skool is van Dinsdag 11 Mei tot Maandag 17 Mei gesluit.

Die hele terrein, asook die koshuise, word in dié tydperk deeglik gesaniteer. Rinus de Jager, skoolhoof, het by navraag aan Die Pos gesê drie leerders het positief getoets, asook tien ouers of direkte familielede van leerders.

Die betrokke leerders is in isolasie en word dopgehou vir simptome. Sommige van hulle wag op toetsuitlsae.

Laerskool Thabazimbi se skoolbestuur het ook ’n amptelike skrywe uitgestuur waarin hulle bevestig dat die skool tydelik gesluit is nadat vier personeellede positief getoets is.

Die skool is voortdurend in kontak met die department van onderwys, asook ouers van die skool, en onderneem om alle moontlike stappe te neem om die veiligheid van leerders en onderwysers te verseker. Die skool sal weer op Maandag 17 Mei heropen.

Hoërskool Warmbad het op Woensdag 5 Mei alle skoolaktiwiteite gestaak en die skool ontruim nadat ’n leerder en ’n personeellid positief getoets is vir Covid-19.

Die skool het in 2020 ook tydens die vlak 4-inperkingstyd hul deure tydelik gesluit nadat ’n matriekleerder positief getoets is.

Paul Liddle, skoolhoof, het teen druktyd gesê daar is tans bevestiging dat twee leerders en ’n personeellid die virus onder lede het. Die skool se beheerliggaam het in oorleg met die departement van onderwys besluit om die skool vir sewe dae te sluit.

“’n Tweede leerder is op Saterdag 8 Mei positief getoets. Die betrokke leerder is ’n diabeet en is daarom in die hospitaal opgeneem.”

Die skool sal na verwagting op Woensdag 12 Mei hul aktiwiteite hervat.

“Die veiligheid van ons leerders is eerste prioriteit,” het Liddle gesê. “Die skool se akademiese program word deur middel van aanlynklasse voortgesit. Die personeellede sal sorg dat die leerders op datum bly met die kurrikulum.”

Related Articles

Back to top button