NewsSchools

Nylies se harde werk word beloon

Hoërskool Nylstroom staan breë bors nadat hulle tydens die Waterbergdistriksmunisipaliteit (WDM) se toekenningsgeleentheid aangewys is as die skool wat die beste presteer het in die kategorie vir skole met minder as 100 matriekleerders.

Die geleentheid het op Maandag 19 April in Bela-Bela plaasgevind. Die skool se gr.12-groep van 2020 het ’n slaagsyfer van 96,9% behaal.

Die skool het nóg twee veertjies in die hoed ontvang. Annica Higham is aangewys as die beste geografieonderwyser in die distrik met haar leerders wat ’n 100% slaagsyfer behaal het.

James Chauke, die Nylies se hoofseun en Dux-leerder van 2020, het met verskeie toekennings weggestap. Hy is aangewys as die derde beste presteerder in die Waterberg-distrik met ’n gemiddeld van 87,9%.

Hy het toekennings ontvang vir die beste prestasie van die Waterberg-streek in rekeningkunde (95%), fisiese wetenskap (94%) en wiskunde (95%).

As prys het hy ’n skootrekenaar en selfoon ontvang. James streef vanjaar sy droom na en is ’n mediese student aan die Universiteit van die Witwatersrand (WITS) in Johannesburg.

“Baie geluk aan elke onderwyser, leerder en ouer betrokke by die skool. Ons is baie trots op julle,” het Anton du Plessis, skoolhoof gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button