NewsSchools

Francis groet Thabazimbi en Frikkies

Francis Coetzee, geliefde onderwyser van Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi, het haar kollegas met trane in die oë en haar onmiskenbare glimlag gegroet.

Coetzee was die afgelope 39 jaar ’n onderwyser by dié skool waar sy diep spore getrap het en alombekend was as ’n ware voorbeeld van deernis en liefde.

Die einde van haar 41-jaarlange onderwysloopbaan breek aan die einde van dié kwartaal aan.

“Ek was baie geseënd in my loopbaan,” het sy aan Die Pos gesê. “Ek het die geleentheid gehad om saam met sewe skoolhoofde te werk, baie kinders te lei en ongelooflike ervarings te hê.”

Sy het as departementshoof nog nooit ’n vakdruipeling in Afrikaans Huistaal gehad nie, maar neem nie graag alleen die eer daarvoor nie.

“Ek het die laaste tien jaar net vir matrieks skoolgehou. As dit nie vir my span was nie, sou ek dit nooit kon vermag nie.”

As boorling van Thabazimbi het Coetzee die dorp en sy mense deur die jare innig leer liefkry en sy vertel graag hoe die dorp se mense en hul stories haar gevorm het tot die mens wat sy vandag is.

“Onderwysers het altyd êrens in hul loopbane ’n mentor en vir my was dit Ben van der Linde. Hy was daardie soort hoof wat potensiaal in almal kon raaksien,” vertel sy. “Hy het ons gedurig in ’n blik gedruk om ’n kursus te deurloop of “onmoontlike” take aan te pak en wie is jy om te twyfel as hy in jou glo? Hy het die kundigheid gehad om enigiemand te motiveer.”

Dit is vir haar inspirerend om na ander mense se stories te luister.

“’n Mens kan natuurlik by enigiemand iets leer — ook by kinders — en ons as onderwysers word baie keer gevorm deur die kinders wat voor ons sit. Ek het jare gelede vir ’n seun skool gegee wat op ’n plaas net buite die dorp gewoon het. Hy was ’n baie gemiddelde kind, maar hy was hardwerkend en hy was altyd vriendelik. Ek het jare later gehoor dat hy die skool gebel het om navraag te doen oor my welstand,” vertel sy.

“Daardie kind het my geleer dat alles wat ’n mens doen saak maak — selfs die kleinste gebaar kan iemand se lewe verander.”

Coetzee se nalatenskap is een van integriteit, respek, wysheid en emmers vol liefde. Sy laat ’n groot leemte in die dorp wanneer sy en haar man, Joe, eersdaags ’n nuwe hoofstuk in hul lewens by Hartbeespoortdam afskop.

Related Articles

Back to top button