NewsSchools

Laerskool Koedoeskop se nuwe hoof het mooi drome vir dié pragskool

EM Kelly het gesê: “Die verskil tussen ’n baas en ’n leier is een woord: “Ons!”

Dié woorde is baie waar wat Zarius Janse van Rensburg, nuwe skoolhoof van Laerskool Koedoeskop, betref.

Vir Janse van Rensburg, wat in ’n pastorie grootgeword het, het die leiding van die Here altyd sy weg gebaan.

Hy het sy hoërskoolloopbaan in 2004 aan Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen voltooi.

“Met my pa as predikant, het ek ’n sterk sendingroeping gehad,” vertel Janse van Rensburg. “Ek was redelik huisvas en daarom het my ouers ernstig gebid dat die Here my sal lei in my toekoms en roeping. Onderwys het soos ’n boek oopgeval,” onthou hy. Ek het nog altyd ’n begeerte gehad om by ’n laerskool te werk en geestelike saad te saai,” vertel hy.

En dit doen hy reeds die afgelope vyf jaar by Koedoeskop waar hy waarnemende hoof was.

“Die spreekwoord lui: Buig die boompie terwyl hy nog jonk is en dit is juis wat ek wil doen. Dink net aan die invloed wat jy op kinders kan hê om hulle te inspireer om van jongs af hul harte aan die Here toe te wy?”

Vir Janse van Rensburg is alles wat mens in die lewe bereik, bloot genade van Bo. Hy sê hy het boonop ’n fantastiese span onderwysers en sy vrou, Elmé, wat hom bystaan.

Hy sê Koedoeskop het hom geleer dit is belangrik om van alles kennis te dra.

“Minder hande beteken minder gedelegeerde take. Jy vat self voor en werk sy aan sy met personeel en ouers. Ek was bevoorreg om die vorige hoof, Gustav Grobler, as mentor te hê.”

Janse van Rensburg is ’n familieman en beskryf homself as ’n “spanspeler”.

Hy sê hy is baie geheg aan Laerskool Koedoeskop en glo dié skool sal van krag tot krag gaan.

“Ek maak beslis nie op my eie beperkte vermoëns staat nie. Ek glo aan die woorde van 2 Korinthiërs 3: 5: Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God.”

Hy spreek sy dank uit teenoor Laerskool Koedoeskop se beheerliggaam vir die ondersteuning en leiding in die tydperk wat hy waargeneem het as skoolhoof.

Volgens hom het hulle ongelooflike ondersteuning aan die hoof en personeel gebied tydens die Covid-19-pandemie.

Related Articles

Back to top button