NewsSchools

Faith Kidz se hart lê by hul leerders

“Ons moenie kla nie, want vir ander mense is ons uitdagings hul feëverhaaldroom.”

Só sê Cindy Jansen van Rensburg, mede-eienaar en hoof van Faith Kidz Crèche in Modimolle.

Cindy en haar man, Leonard Jansen van Rensburg, het die skool in Januarie 2010 begin met ’n geloofsdroom en passie vir kinders.

Soos talle ander instansies het hulle egter ook die negatiewe invloed van die Covid-19-pandemie beleef.

“Die afgelope jaar was vir ons die moeilikste jaar sedert die skool in 2010 geopen het. Ons besef die einde van ons uitdagings is nog nie in sig nie, want baie ouers verkies steeds om hul kinders tuis te hou uit vrees vir die Covid-19-virus of weens finansiële oorwegings,” het Cindy aan Die Pos gesê.

Heelwat ouers het ook hul werk verloor en kan nie meer die maandelikse skoolgeld bekostig nie.

“Ons probeer hulle sover moontlik tegemoet kom, maar sonder regeringshulp en skenkings is ons hande afgekap.”

Volgens Cindy het hulle die 2020-skooljaar met 45 kleuters en laerskoolleerders in die middagklas afgeskop, maar toe hulle in Augustus verlede jaar weer hul deure kon open, was daar sommige dae net twee kinders wat opgedaag het.

“Ons het nooit weer ná die pandemie meer as 10 kinders per dag gehad nie.” “Ons moes noodgedwonge personeel verminder. Ek behartig tans self die gr. R- en seniorgroep en Mary Mamarema, wat al agt jaar aan die skool verbonde is, behartig die junior groep. Mary is ’n ware staatmaker en is baie lief vir al die kinders. My seun, Leonardo, het gedurende die grendeltyd sy werk verloor en help nou ook elke dag by die skool uit, veral by die gr. R-groep,” het sy gesê.

Baie van die skool se kleuters het ouer sibbe op skool en met die wisselende roosters waartydens kinders net sommige dae skool bywoon, het van daardie ouers besluit om liefs hul kleuters tuis te hou.

Cindy vertel: “Ouers sê ook dat hulle steeds die volle maandelikse vervoerkoste aan taxi-operateurs moet betaal, selfs al woon hul kinders net sekere dae skool by. Daar is werklik baie finansiële druk op ouers.”

Die skool het sterk Christelike waardes en beginsels en akkommodeer leerders van 4-6 jaar. Die voertaal is Engels, maar in die senior klas word kinders ook basiese taalvaardigheid in Afrikaans geleer as hul ouers besluit om hulle in ’n Afrikaans-medium laerskool in te skryf.

In die junior klas is die voertaal hoofsaaklik Sepedi, maar kinders word ook blootgestel aan Engels en Afrikaans.

Volgens Cindy is die eerste projek op hul wenslysie om die speelgrond op te kikker en die bestaande klimrame te verf.

Inwoners wat kan help met skenkings of materiaal, kan vir Cindy Jansen van Rensburg bel by tel. 078 657 8760 of stuur ’n WhatsApp na tel. 082 496 9016.

Related Articles

Back to top button