NewsSchools

Danika is dinamiet!

Die spreekwoord lui: “Dinamiet kom in klein pakkies.”

Dié woorde was nog nooit so waar soos in die geval van die jong karatekampioen Danika Stephansen nie.

Wanneer ’n mens na die fyn gr. 7-leerder van Laerskool Thabazimbi kyk, kan jy nie glo dat dié tenger 13-jarige een van die gevaarlikste karateka in die land is nie.

“Ek dink ek wen baie omdat ek so klein is. Ek het altyd baie energie en ek is vinnig. Ek dink dit help my baie,” het sy aan Die Pos gesê.

As een van die toptien Suid-Afrikaanse karatekas het sy Limpopo se naam hoog gehou in haar ouderdomsgroep tydens die nasionale karatekampioenskap in Durban.

Danika word groot in ’n tipiese Suid-Afrikaanse sportmal huis met ’n pa wat self op sy dag uitgeblink het in karate. Sy sê hulle is almal geesdriftige ondersteuners van enige Suid- Afrikaanse sportspanne.

Sy vertel sy het vroeër graag aan meisieskrieket deelgeneem, maar later haar krieketkolf neergesit het omdat die belangstelling onder die ander meisies maar min by krieket is.

“Daar was nie altyd genoeg ander meisies wat wou saamspeel nie.”

Sy het haar daarna toegespits op haar eerste liefde wat karate is.

“Daar was eendag ’n karategroep wat die dorp besoek het en ek het besluit ek wil dit probeer.”

Sy het die afgelope nege jaar met baie deursettingsvermoë en ’n ongelooflike passie vir karate reeds die hoogste sport bereik en bied selfs soms klasse aan by haar dojo.

Harde werk en passie het haar al baie ver gebring en dit is geen verrassing dat sy dit reggekry het om vanjaar met ’n silwer medalje by die nasionale karatekampioenskap weg te stap nie. Danika is beslis iemand om dop te hou.

Goeie raad: Moenie moeilikheid soek met dié fyn mooi meisie nie! Personeel van Laerskool Thabazimbi het aan Die Pos gesê hulle is baie trots op haar.

Sy is boonop ’n staatmaker by die skool en haar werk is van hoogstaande gehalte.

Related Articles

Back to top button