NewsSchools

Waterberg-streek styg uit in eksamen

Die Waterberg-streek se matriekkandidate het hul staal gewys in die 2020 nasionale eksamen en die beste in die provinsie presteer.

Volgens inligting van die Limpopo-onderwysdepartement se Waterberg-streekkantoor in Modimolle was die slaagsyfer in die Waterberg-distrik 77,5%, Vhembe-oos 77,1%, Vhembe-wes 72,7%, Capricorn-suid 72,3%, Mopani-wes 68,4%, Mopani-oos 67,3%, Mogalakwena 66,7%, Capricorn-noord 64,3%, Sekhukhune-suid 59,4% en Sekhukhune-Oos 56,1%.

Die nasionale matriekslaagsyfer vir 2020 staan op 76,2% wat ’n 5,1% afname is in vergelyking met die 2019-uitslae.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het tydens die bekendmaking van die nasionale slaagsyfer op Maandag 22 Februarie gesê Limpopo se slaagsyfer van 68,2% laat ruimte vir verbetering.

Die Vrystaat het vanjaar stof in die ander provinsies se oë geskop met ’n slaagsyfer van 85,1%. Limpopo se uitslae laat hulle in die sewende plek.

Altesame 725 034 matrikulante het landwyd die nasionale eksamen afgelê, waarvan 440 702 kandidate die nasionale eksamen geslaag het, het Motshekga gesê. Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, het sy lof uitgespreek teenoor die 53 634 leerders van Limpopo wat die 2020 akademiese jaar suksesvol voltooi het.

Die totale geregistreerde matriekkandidate in die provinsie was 78 695.

Die 2020 akademiese jaar is gekenmerk deur groot ontwrigting weens die Covid-19-pandemie. Skole het vir lang periodes gesluit, leerders en onderwysers se afwesigheid weens gesondheid het toegeneem en in baie gevalle was daar min en in sommige gevalle, geen ondersteuning vir leerders met studieprobleme of gebrek aan infrastruktuur nie, het hy gesê.

“Hierdie uitdagings, asook die departement se onvermoë om lesse aanlyn aan te bied en die gebrek aan internettoegang in die meeste gebiede, het die jarelange gebrek in die provinsie ongelukkig beklemtoon.” “Dit is sorgwekkend dat 134 skole vanuit die bestaande 1370 skole in die provinsie nie eens ’n 40%-slaagsyfer kon behaal nie. Ongeveer 31 van hierdie skole kon nie 20% haal nie en in nege skole het geen matrikulant geslaag nie.”

Volgens die DA se syfers het 31,5% van die kandidate wiskunde geslaag, slegs 38,3% fisiese wetenskappe en 36% ekonomie — vakke wat volgens Smalle vir matrikulante belangrik is om keuring tot hoëronderriginstansies vir verdere studies te verkry.

“Dit is ’n riem onder die hart dat 49 skole ’n 100%-slaagsyfer behaal het. Die departement van onderwys sal in hierdie jaar meer ondersteuning aan skole moet bied om beter uitslae te behaal,” het Smalle gesê. “Ons raai die LUR van onderwys, Polly Boshielo, aan om uit die lesse van die uitdagende 2020 te leer sodat die afwaartse kurwe van ons onderwysstelsel omgeswaai kan word. Die leerders van Limpopo verdien beter ondersteuning en gehalte onderrig as wat hulle tot nou toe ontvang het.”

Related Articles

Back to top button