NewsSchools

Leerders kuier al te lekker by bankies uit herwinde plastiek

Die 2020-gr. 7-leerders van Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong het hulle nie laat afskrik deur die Covid-19-pandemie nie, maar man en muis ’n bydrae gelewer om ’n nuttige en gewaardeerde afskeidsgeskenk aan die skool te gee.

Dit is tradisie dat die gr. 7-leerders aan die einde van hul laerskoolloopbaan ’n geskenk aan die skool gee uit erkenning vir die skoolopleiding wat hulle daar ontvang het, maar ook as nalatenskap vir die leerders wat nog daar is.

Volgens Sylvia van Wyk, graadhoof, het hulle in 2020 ’n “tref-en-trap-aand” gereël en op dié manier geld ingesamel om 10 piekniekbankies van herwinde plastiek te koop.

“Daar was werklik ’n behoefte aan sitplek waar die leerders tydens pouses kan sit,” het sy gesê.

Die skool kon eers in Februarie vanjaar die geld beskikbaar stel en die bankies is met groot afwagting op die skoolterrein aangebring.

“Wat doen die leerders van dié skool, wat as die Boompies bekend staan, as die paaie, hekke en deure toemaak? Ons groei bo-oor!” het Marietjie Van Niekerk, onderwyser by dié skool, in ’n bedankingsbrief aan die leerders geskryf.

“Ons was in 2020 op ’n woestynpad. Daar was maskers, grade wat aan wisselroosters gewoond moes word, virtuele klasse en ’n onderbroke akademiese jaar, maar ons Boompies het besluit om saam met die diger Eugène Marais te dans in die reën. Ons het fyner gekyk en die voetspore in die sand gesien. Ons het dankbaar besef: God is reeds vooruit. Baie dankie 2020 se gr. 7’s. Julle groei is nou ons koelte.”

Related Articles

Back to top button