NewsSchools

Hansie-matrieks van 2020 presteer puik

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong se matrieks van 2020 was oorstelp van vreugde toe hulle op Dinsdag 23 Februarie hul matriekuitslae by die skool ontvang het.

Die Hansies se onderwysers het hulle ook met groot afwagting ingewag.

“Dit was ’n buitengewone jaar vir onderwysers en matrieks en hulle moes die jaar onder moeilike omstandighede afhandel. Ons is baie trots op die uitslae wat getuig van die toegewyde onderwysers en verantwoordelike leerders van ons skool,” het Rinus de Jager, hoof, aan Die Pos gesê.

Die Hansies het altesame 39 onderskeidings verwerf en ’n slaagsyfer van 95% behaal. Drie van die Hansies spog met vier onderskeidings elk.

Jolindie Booysen het ’n A+ behaal vir Engels Eerste Addisionele Taal, lewensoriëntering en Afrikaans Huistaal en ’n A vir lewenswetenskap. Sy het aan Die Pos gesê sy het baie hard gewerk om dié prestasie te behaal.

 

Nog ’n Hansie-matrikulant wat puik uitslae behaal het, is Zodi Coetzee. Sy het ook vier onderskeidings verwerf.

 

Sy gaan vanjaar megatroniese ingenieurswese aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom studeer. Sy is baie opgewonde oor die robotika deel van die studies.

“Matrieks van 2021, julle moet net moedhou en hard werk,” was haar boodskap aan hulle.

Haar droom is om eendag robotprosteses te ontwerp en vervaardig om mense met gestremdhede te help. Zodi Coetzee is nog ’n slimkop wat vier onderskeidings verwerf het.

Sy het ’n A+ vir toerisme en A-simbole vir Afrikaans Huistaal, lewensoriëntering en wiskunde geletterdheid verwerf. Sy werk tans by ’n apteek in die dorp, maar haar kop staan in die aptekerswese rigting.

 

Carla van der Walt van Hoërskool Hans Strijdom spog ook met vier onderskeidings.

 

“Ek wil eers ’n oorbruggingskursus in wiskunde en lewenswetenskappe doen en dan gaan studeer. Ek werk vanjaar en spaar vir my studies. My ouma, wat ’n groot inspirasie in my lewe was, is tydens die eindeksamen oorlede en ek het hard geleer vir haar,” het sy geesdriftig vertel.

Carla van der Walt het ook vier onderskeidings behaal. Sy het ’n A+ in besigheidstudies en A-simbole vir Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal en lewensoriëntering behaal.

“Ek gaan vanjaar B.Com Ondernemingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria studeer en ek sien baie uit na die studentetyd,” het sy met ’n breë glimlag gesê.

“Hou moed, hou aan en moenie dat enigiemand jou keer nie,” is haar boodskap aan die matrieks van 2021.

Natasha Smal het drie onderskeidings verwerf in Engels Eerste Addisionele Taal lewensoriëntering en toerisme.

 

Natasha Smal, nog ’n slimkop van Hoërskool Hans Strijdom, het drie onderskeidings behaal.

 

“Ek was aan die begin van matriek baie onseker van myself, maar my ouers het my geïnspireer en gemotiveer en ek het besluit om hard te werk,” het sy aan Die Pos gesê.

Sy wou eers modeontwerp gaan studeer, maar het van plan verander en gaan sielkunde studeer sodra sy haar studiegeld bymekaar gemaak het.

Sy het ’n passie vir mense en wil hulle help om hulle drome te bereik. Natasha wil ook voortgaan met haar dansloopbaan. Sy het dié besondere talent by haar ma geërf.

Related Articles

Back to top button