NewsSchools

Merke, gereed, gaan!

’n Vakansie is lekker en is iets waarna mens uitsien, maar dié besondere lang Desember-skoolvakansie het ouers kriewelrig, leerders verveeld en personeel angstig gelaat.

Skole open amptelik op Maandag 15 Februarie nadat die departement van onderwys die vakansie verleng het om leerders veilig te hou ná die tweede golf van die Covid-19-pandemie. Privaatskole het reeds op Maandag 1 Februarie begin.

Chrisna van der Walt, hoof van Academia Private School in Bela-Bela het by navraag gesê die leerdergetalle is laer as vorige jare. Sy skryf dit toe aan leerders wat verkies om aanlyn skool te gaan. Sy sê hulle sal steeds streng veiligheidsmaatreëls handhaaf en beplanning is só gedoen dat die werk kan voortgaan.

Leerders het reeds jaarbeplanning en werkboeke ontvang. Hulle is volstoom aan die werk.

“Ons het regtig ’n goeie wegspring gehad en ons weet nou beter hoe om sake te hanteer. Ons ouers hoef gelukkig nie meer saans onderwyser te speel nie.”

Die skool het ter voorbereiding die leerders met ekstra aanlyn wiskundeklasse voorberei sodat die basiese beginsels reeds vasgelê is vir die nuwe akademiese jaar. Die skool volg die Cambridge-kurrikulum.

“Die personeel is gemotiveerd om vanjaar groot hoogtes te bereik. Ons skool vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar en ons is in die proses om ons eie koshuis op die been te bring,” het Van der Walt gesê.

By Hoërskool Warmbad is die personeel op hul poste. Hulle is gefokus en voorbereid vir die nuwe akademiese jaar.

“Isaac Newton het mos gesê as hy verder kon sien, was dit omdat hy op die skouers van reuse gestaan het. Ons glo dat ons in 2021 ons skool gaan uitbou, want ons weet nou watter impak die virus op ons ouers, leerders, personeel en gemeenskap het,” het Paul Liddle, skoolhoof, gesê.

“Ons wil seker maak dat ons leerders steeds ’n positiewe uitkyk het en dat hulle ’n beduidende rol in die samelewing speel en in die toekoms ’n bydrae maak tot die wêreldekonomie.”

Liddle meen die Warries kan die uitdagings trotseer met die emosionele en fisieke bystand wat die skool bied. Die leerders sal meer toegang hê tot die bestaande elektroniese stelsels om die akademie uit te bou.

Die klein Warries en onderwysers by Laerskool Warmbad staan gereed vir die skoolklok om te lui. Hulle is angstig om met die nuwe jaar se bedrywighede te begin.

“Al die personeel is terug en gereed vir die jaar en ons is jammer vir lede van ons gemeenskap wat in hierdie tyd geliefdes aan die dood afgestaan het,” het Liezel Grobler, waarnemende onderhoof, by navraag gesê. “Kurrikulumgewys is ons op datum, ons het nuwe klaskamers en het drie personeellede bygekry. Ons behoort binnekort ook kennis te kry van die nuwe hoof se aanstelling.”

Dié pos is vakant nadat die vorige hoof, Hennie Coetzee, afgetree het.

“Ons grondslagfase-leerders (gr.1-3) sal elke dag by die skool aanmeld en gr. 4 tot 7-leerders is in twee groepe verdeel. Die kleiner klasse sal beslis beter gehalte onderrig verseker,” het Grobler gesê. Die Covid-19-veiligheidsmaatrëels sal steeds streng gevolg word.

Elke groep leerders het ook hul eie speelgrond beskikbaar gedurende pouse. Bosveldspruitjies-kleuterskool, die satellietskool van Laerskool Warmbad, het reeds twee weke gelede hul klein maatjies, die gr. R’e en jonger, by die skool verwelkom.

“Dit is so lekker om hulle en al ons onderwysers weer terug te hê. Ons het besluit om met verlede jaar se tema, “Covid-19 en my skool”, te begin, net om die maats weer te verfris,” het Christa Snyman, hoof, by navraag gesê.

Snyman het gesê hulle is positief dat die gr. R-groep reeds by die departement van onderwys geregistreer is en dat die gehalte van onderrig gemoniteer word. Bosveldspruitjies is die voedingskool van Laerskool Warmbad.

“Die standaard van die kurrikulum is baie goed en sukses word behaal, want temas en werk word by kinders vasgelê terwyl hulle speel,” het sy gesê. “Daar is genoeg ruimte en veilige spasie vir die kinders om nog te baljaar en akademies verryk te word.”

Related Articles

Back to top button