NewsSchools

Laerskool Eugène N. Marais spog met nuwe hoof

Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong het op Maandag 8 Februarie hul nuwe skoolhoof verwelkom.

Marina Gravett is die eerste vrou in die skool se geskiedenis wat as skoolhoof aangestel is. Sy is egter nie ’n vreemdeling in onderwyskringe in Mookgophong nie.

Sy was 17 jaar lank aan Hoërskool Hans Strijdom in die dorp verbonde en het verlede jaar daar as adjunkhoof waargeneem. Haar spesialiteitsvak is wiskunde.

Sy het as mentor vir jong onderwysers in die omgewing opgetree en was altyd beskikbaar om hulp te verleen. Sy het aan Die Pos vertel sy het in Pretoria grootgeword en in 1986 aan Hoërskool Waterkloof gematrikuleer waar haar pa, Pieter Martins, in 1980 die eerste permanente skoolhoof van die toe relatiewe nuwe skool was.

“My pa het ’n baie groot invloed op my lewe gehad. Hy was vir my ’n rolmodel en voorbeeld; ’n ware Godsman met ’n passie vir die onderwys,” het sy aan Die Pos gesê.

Sy het ná skool aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en haar as onderwyser bekwaam. Haar eerste onderwyspos was by Hoërskool Garsfontein in Pretoria. Sy is getroud met Wynand Gravett en hulle het twee dogters, Ilse en Anneri.

“Ek glo die Here bepaal vir elkeen ’n pad en ek is dankbaar om by Laerskool Eugène N. Marais te wees. Ek het vandag God se banier langs die skool se vlag geplant sodat dit die fokuspunt vir die skool kan wees en dat ons sal onthou dat ons leef deur Sy genade. Ek is opgewonde om kaptein van dié span te wees,” het sy gesê.

Haar doelwit vir die skool is om elke kind die geleentheid te gee en te help om sy of haar volle potensiaal te bereik.

“Ek sien daarna uit om saam met die bekwame onderwysers te werk en ek sien nog groter hoogtes vir die skool,” het sy opgewonde gesê.

  • Gravett het ’n geskiedenis van leiers in haar stamboom. Oud.pres. CR (Blackie) Swart was haar oupagrootjie.

Related Articles

Back to top button