NewsSchools

Hansies skud vere reg vir nuwe skooljaar

Die personeellede van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong was op Maandag 1 Februarie op hulle pos en slaggereed vir die jaar om af te skop.

Die Hansies het vanjaar ’n paar nuwe onderwysers bygekry en vier studente sal hul onderwysloopbaan daar begin met indiensopleiding.

Rinus de Jager, skoolhoof, het in sy boodskap vir die leerders, personeel en ouers gesê hy sien uit na die nuwe skooljaar.

“Ons sal die nuwe normaal aanvaar en weet dat niks werklik sal wees soos ons daaraan gewoond is nie, maar ons sal beslis die beste van die uitdagende situasie maak,” het hy aan Die Pos gesê.

Hy het ook gesê die aantal leerders wat reeds ingeskryf het, is ’n bewys van die vertroue in die skool met sy bekwame onderwyserskorps.

De Jager is van mening dat die matriekuitslae van 2020 steeds baie goed sal wees, al is dié skooljaar gekenmerk deur groot ontwrigting. Die matrieks en die personeel het harder as ooit gewerk en aangepas by die nuwe uitdagings wat aan hul gestel is, het hy gesê.

Hy het ook die wens uitgespreek dat almal betrokke by die skool goeie gesondheid sal hê en het die versekering gegee dat die skool sal voortgaan om streng Covid-19-maatreëls na te kom. Die skool is verbind daartoe om akademie as eerste prioriteit te stel.

Gehalte onderrig sal aan leerders gegee word — of hulle fisies in die klas is of soos verlede jaar aanlynafstandsonderrig moet kry.

“Die skool se finansies is nie rooskleurig nie en ons het hande gevat met Solidariteit se Helpende Hand-uitreikprojek om behoeftige leerders te help. Finansies moet die laaste ding wees wat ’n kind weerhou van goeie onderrig en opvoeding. Ouers wat hulp nodig het, moet ons asseblief kontak,” het hy genooi.

De Jager wens die buurskole ook voor- spoed toe en hoop dat hulle groei en vooruitgang sal ervaar.

Related Articles

Back to top button