NewsSchools

Ysterberg-Voortrekkers vereer sy staatmakers

Die Ysterberg Voortrekkers van Thabazimbi het op Woensdag 21 Oktober tydens hul jaarafsluitingsgeselligheid verskeie toekennings aan lede en offisiere gemaak.

Danie Naudé, kommandoleier, het gesê weens die Covid-19-inperking kon lede nie soos gewoonlik kentekens verwerf nie.

Die Super Snuiter-projekte het egter dié leemte probeer vul en lede kon tuis aan projekte werk om punte te verdien.

Die afsluitingsgeleentheid het afgeskop met die seremoniële inlywing van die nuwe Penkoppe en Drawwertjies. Verskeie offisiere en heemraadslede is ook ingelyf en erkenning is aan offisiere gegee vir volgehoue diens aan die Voortrekker-beweging.

Die nuwe heemraadslede is Elmaré Weatherall-Thomas (adjunk- kommandoleier: finansies) en Annamart Jarman (adjunk- kommandoleier: administratiewe afdeling).

Die Voortrekkers het nuwe tegnologie ingespan en hul gereelde kommandovergaderings wat gewoonlik in Pretoria gehou word, deur middel van Skype aangebied. Goedkeuring is tydens hierdie vergaderings verleen om ’n nuwe wapen vir die Ysterberg-veldkornetskap te ontwerp.

Die ontwerp van Jaco Schlebusch is aanvaar. Die pandemie het ook dié kommando se geldsake deurmekaar gekrap. Baie lede wat gereeld lidmaatskap betaal het, se ouers het hul inkomste verloor wat meegebring het dat inkomste uit ledegeld baie gekrimp het.

Verskeie kampe moes ook weens die inperking gekanselleer word. Die bestuur is vol vertroue dat daar wel in 2021 geleentheid sal wees om die aktiwiteite wat gekanselleer moes word, by te woon. Kampe speel ’n integrale rol in die verwer- wing van kentekens. Dit is ook tydens kampe waar lede nuwe vaardighede, respek en groepwerk aanleer.

Die Ysterberg-voortrekkers het nie minder as 40 bottels met sopmengsels gevul en onder minderbevoorregte mense versprei nie. Die grootste les vir die deelnemers was die feit dat hulle met eie inisiatief vir ander mense die lewe makliker kon maak.

Hoewel die Super Snuiter-projekte ’n afname getoon het met die heropening van skole, kan hierdie projekte steeds gedurende die Desember-vakansie afgehandel word.

Die projekte is baie interessant en kan menige ledige ure vul. Die Voortrekkers is ’n kultuurorganisasie wat deur vrywilligers met deursettingsvermoë, toewyding, en opoffering bestuur word om die kinders van hul gemeenskap te leer om hul erfenis te bewaar.

Vir meer inligting besoek die webwerf www.voortrekkers.co.za of bel vir Danie Naudé by tel. 082 738 6737 of Karin Naudé by 083 996 3237 of stuur ’n e-pos aan: kp.naude@gmail.com(.)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button