NewsSchools

Sakelede ingelig oor buurtwag en interhoër

Die belangrikheid van samewerking om gemeenskappe veilig te hou was een van die onderwerpe waaroor daar by die Waterberg-sakekamer se onlangse vergadering gepraat is.

Die sakekamer het op Donderdag 15 Oktober vergader en James van Zyl, voorsitter van die plaaslike AfriForum-tak, het gepraat oor die buurtwag.

“AfriForum se buurtwagte regoor die land groei daagliks. Dit is ’n deeglike netwerkvan Musina tot Kaapstad wat ’n belangrike bydrae lewer om gemeenskappe veilig te hou,” het hy gesê. “Danksy die radionetwerk weet ons van elke voorval in die land.”

Die buurtwag in Modimolle het 40 lede waarvan 14 lede gereeld patrollies onderneem.

“Ons het die afgelope jaar sowat R80 000 aan radio’s, koeëlvaste baadjies, ligte en brandstof bestee. Ons wil in die komende jaar van ons tak se geld gebruik om ’n hommeltuig (“drone”) aan te skaf om die polisie by te staan. In die geval van die onlangse Van Ellewee-inbraak sou ’n hommeltuig baie handig gewees het om na die inbrekers in die veld te soek,” het hy gesê.

Van Zyl het lede van AfriForum aangemoedig om by die plaaslike tak in te skakel sodat hul bydraes aan die tak toege- ken word.

“Ons gebruik van ons takfondse om slaggate te herstel en om patrollies te onderneem. Ons vervang nie die munisipaliteit nie, maar plaas druk op hulle om hul verantwoordelikhede na te kom,” het hy gesê.

Die tak beplan ’n projek waar straatligte wat met sonkrag werk in erwe opgerig word sodat die strate nie donker is nie. Kurt Kruger van die Heritage Protection Group (HPG) het ook ’n spreekbeurt gehad.

“HPG is nie ’n veiligheidsmaatskappy nie en kan nie waarborg dat mense nie aangeval word nie. Ons ondersoek misdaad- en geweldsmisdade sodat die skuldiges aangekeer kan word,” het hy gesê.

HPG is ’n nie-winsgewende-organisasie. Volgens Kruger het hulle teen lidmaatskap besluit om te verseker dat hulle integriteit nie beïnvloed word nie. Hulle het verskeie ander insamelingsveldtogte om hul werksaamhede te befonds en hy het sakelui aangemoedig om hulle te ondersteun.

  • Anton du Plessis, hoof van Hoërskool Nylstroom, het die lede ingelig oor die interhoër wat aanstaande jaar vir die tweede agtereenvolgende jaar by dié skool aangebied word.

    “Ons sien uit daarna om weer saam met die gemeenskap te werk om dit nóg ’n groter sukses te maak,” het hy gesê.

    Dié byeenkoms bring ’n welkome geldelike inspuiting vir sakelui. Dit word weer in Modimolle aangebied omdat die terrein reeds ingerig is en die inperkingstyd Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal nie genoeg geleentheid gegee het om hul bane en velde voor te berei nie.

    Du Plessis het gesê hy is trots op die hoë bywoningsyfer van onderwysers en leerders tydens die Covid-19-pandemie.

    “Die onderwysers het harder as ooit gewerk en ons gr. 12-leerders is slaggereed vir die eksamen. Ons Covid-19-komitee het op hoogte gebly van enige veranderings van die departement van onderwys en ons kon vinnig aanpas- sings maak. Dit is vir ons belangrik dat ons leerders op standaard is,” het hy gesê.

    Die skool dien ook in Januarie as ’n merksentrum vir matriekvraestelle.

Related Articles

Back to top button