NewsSchools

Frikkie Meyer-matrieks ná 50 jaar saam

Hoërskool Frikkie Meyer-matrieks van 1970 het die tweede naweek in Oktober hul 50-jaar reünie op ThaniZimbi buite Thabazimbi gehou.

Die gaste het van die uithoeke van die land gery (van Paarl en Durbanville in die Wes-Kaap tot Mbombela in Mpumalanga, Brits en Magaliesburg in Noordwes en ook van Gauteng) om hierdie besondere geleentheid mee te maak en ou skoolstaaltjies uit te ruil.

Die oud-Frikkies, wat bestaan het uit 17 vroue en 13 mans en hulle metgeselle, het afgeskop met ’n vrolike Chinese braai.

Daar is ou vriendskappe hernu en hulle het tot laataand gekuier. Weens logistieke- of gesondheidsprobleme kon 21 oudleerders nie die geleentheid bywoon nie. Hieronder was Hannes Stopforth (Kanada) en Ria Snyman van Niekerk (VSA) wat weens die huidige Covid-19-inperkingsregulasies nie kon reis nie.

Die groep het op Saterdag 10 Oktober die geleentheid gehad om die skool te besoek en gesellig saam met die onderwysers verversings te geniet. Die aand was daar ’n lam op die spit.

Die uurglasseremonie waartydens daar hulde gebring is aan die 14 klasmaats wat sedert die groep se skooldae gesterf het, was ongetwyfeld ’n hoogtepunt.

Dié oud-Frikkies is Paula Brink, Jan (Kers) Engelbrecht, Christo Greyling, Elize Janse van Vuuren, Herman McAlpine, Elize Prinsloo, Marlene van der Hoven, Magriet van Niekerk, Nico van Staden, Hendrik van Staden, Rosa van Wyk, Jan Vorster, Dave Landsberg en Joey Cornelius.

Die oudonderwysers wat die geleentheid bygewoon het, was Chris Bergsma (biologie) en sy vrou Amelia, Ben van Rensburg (liggaamlike opvoeding en rekeningkunde) en Jan en Martie Fourie (rekeningkunde en sportafrigter).

Related Articles

Back to top button