NewsSchools

Voortrekkers deel sop-in-’n-bottelprojek met gemeenskap

Die Voortrekkers van die Ysterberg-span in Thabazimbi het die afgelope tyd hard gewerk aan die sop-in-’n-bottelprojek, ’n landswye diensbaarheidsprojek waarby alle Voortrekkers betrokke is.

Offisiere en lede wat by die projek betrokke was, kon uiteindelik die vreugde van diensbaarheid ervaar toe die bottels, gevul met droë sopmengsels, aan verskeie instansies en individue in Thabazimbi oorhandig is. Elke bottel bevat genoeg bestanddele om ’n voedsame maaltyd aan tot agt mense te verskaf.

Skenkings het van oral gekom. Die Ysterberg-span het veral hul dank uitgespreek teenoor Leonie du Plessis van Modimolle vir haar hulp om die projek vlerke te gee.

Hannetjie Minnaar van Huis Immergroen in Thabazimbi het die bottels ontvang. Huis Immergroen maak voorsiening vir die versorging van bejaardes wat nog na hulself kan omsien, maar aan wie etes voorsien moet word.

Lynette Lewis en haar assistent, Stephina Pooe, het op hul beurt die bottels by die Tambotie-versorgingseenheid, waar daar na verswakte bejaardes omgesien word, ontvang. Albei hierdie instansies maak staat op skenkings uit die gemeenskap om die geldelike las op inwoners te verlig.

Karin Naudé van die Ysterberg-span het aan Die Pos gesê hulle is trots op almal wat hard gewerk het en terselfdertyd vir die jongspan gewys het hoe om ’n eenvoudige geskenk te gee aan mense wat in nood verkeer.

Die Voortrekkers het die projek landwyd geloods as deel van die Covid-19-pandemie se Wees Diensbaar-projek.

Die sop-in-’n-bottelprojek het aan honderde gesinne ’n voedsame maaltyd voorsien. Die Ysterberg-span het ook tydens die geleentheid hul nuwe vaandel met die nuwe wapen bekendgestel.

Related Articles

Back to top button