NewsSchools

Ysterberg se Voortrekkers help met sop-in-bottels

“Hierdie projek bied nou aan hulle die geleentheid om kreatief betrokke te raak en terselfdertyd iets vir die behoeftige mense in die gemeenskap te beteken.”

Die Voortrekkers se landwye diensbaarheidsprojek kom baie handig te pas tydens die Covid-19-pandemie waartydens baie mense hul werk verloor het.

Die behoefte na voedsame kos neem by die dag toe onder alle bevolkingsgroepe. Met dié projek word leë koffiebottels gebruik om die bestanddele vir ’n sopmengsel, wat voldoende is vir vier mense, te verpak. “Die kinders is tydens die grendeltyd toegegooi met aanlynklasse.

Dit het tot gevolg gehad dat die Voortrekkers die afgelope tyd ’n lae profiel gehandhaaf het,” het Karin Naudé van Voortrekkers Ysterberg in ’n telefoniese onderhoud aan Die Pos gesê.

“Hierdie projek bied nou aan hulle die geleentheid om kreatief betrokke te raak en terselfdertyd iets vir die behoeftige mense in die gemeenskap te beteken.”

Sy het gesê die Voortrekkers kan self ook die behoeftige mense uitwys aan wie hulle die bottels wil oorhandig, maar weens die behoefte wat drasties toegeneem het, is die eerste ses bottels wat ingestuur is aan die Thabazimbi-sopkombuis oorhandig. Hulle is reeds geruime tyd besig om kos aan mense in nood te verskaf.

Die Voortrekkers het ’n versoek van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), wat nou betrokke is by welsynwerk in die gemeenskap, ontvang om ook in hierdie projek te deel en help om die Bottelprojek verder uit te bou. Die bestanddele vir die mengsel is ’n halfkoppie rys, ’n halfkoppie gedroogte sopmengsel, ’n halfkoppie lensies, een pakkie sopmengsel en een geurblokkie.

Die mengsel word vir 45 minute in 2 liter water gekook en verskaf genoeg sop om vir vier mense ’n maaltyd te bedien. Vir ’n koffiebottel, wat aan agt mense ’n ete kan bied, kan die hoeveelhede eenvoudig verdubbel word.

Indien mense by die projek betrokke wil raak, selfs al is dit net om bestanddele of leë of gevulde bottels te skenk, skakel gerus vir Danie Naudé by tel. 082 73  6737 of Karin Naudé by tel. 083 996 3237 of stuur ’n e-pos aan: kp.naude@gmail.com.

Hulle sal ook reëlings tref om die bestanddele of bottels af te haal. Nog nuus is dat die Voortrekkers Ysterberg se Supersnuiters weer op Saterdag 1 Augustus met aktiwiteite begin het nadat hulle vir ’n maand nie kon vergader nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button